Deur die
eeue heen het Jahweh keer op keer interaksie met die mens gehad waar Hy verbonde
of ooreenkomste gemaak het. So kan die opdrag aan Adam en
Chuwwa (Eva) tot ‘n mate ook
as verbond gesien word. Dieselfde geld vir Kajin nadat hy sy broer, Abel,vermoor het.
Die
eerste werklike verbond is egter met Noag waar Jahweh hom en sy gesin red van ‘n
gewisse waterdood. Hy (Jahweh) bevestig ook Sy trou en beloof ook om nie weer
die totale aarde met water te vernietig nie (Gen 9). Dit is egter nog steeds nie
die begin van die uitverkore groep – ‘n gemeente (qahal) om Jahweh te aanbid
nie. Wat egter wel tot stand kom is die eerste Babilon – Nimrod (Gen 10:8-10),
Semiramis en Tammuz (Eseg 8:14), die begin van Sonaanbidding.
Jahweh
kom in Genesis 12:1-3 en roep vir Abram (later Abraham) sodat Hy (Jahweh) vir
Abram ‘n volk kan maak om Hom te dien. Verder sou Abram geseënd wees en die wêreld
in en deur hom. Jahweh het Abram geroep vanuit Ur van die Chaldeërs – in
werklikheid ‘n gebied deel van Babel.
In
Genesis 15 kom Jahweh weer na Abram (let op dat sy naam nog nie verander is nie)
en sluit ‘n verbond met hom. Abram moes ‘n vers, ‘n bokooi en ‘n ram
neem en middeldeur sny asook twee duiwe. Die partye wat die ooreenkoms aangaan
het dan tussen deur die vleis beweeg. Vers 18 bring dan duidelik die sluiting
van die verbond na vore. Die Begin van die Verbond!
‘n
Hele aantal jare het verby gegaan en Abram en Sarai het selfs probeer om Jahweh
te ‘help’ om deel van Sy Verbond na te kom deur Hagar ook as vrou vir Abram
te neem. Jahweh ontferm Hom wel oor Hagar en Ismael. Hulle kry ook beloftes om
‘n groot volk te word, maar dit is nie wat Jahweh vir Abram beplan het nie.
Jahweh
kom besoek Abram weer (Gen 17:1) en bevestig Sy verbond om Abram te vermeerder
(Gen 17:2,4,7). Jahweh verander Abram se naam na Abraham – vader van ‘n
menigte nasies. Die interesante verskil hier is dat Jahweh dit bevestig as ‘n
EWIGE verbond (vers 7) met Abraham en sy nageslag – nie net een of twee nie.
Almal vanaf Isak (vers 21)!
Wat is
die kern van hierdie verbond of ooreenkoms? Dit blyk duidelik vanaf vers 8:
”…Ek sal aan jou en jou nageslag na jou die land van jou vreemdelingskap
gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige
besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God (Elohim) wees.” Die prestasie van
Abraham is dat hy en sy nageslag die verbond moet hou en nakom. Alle manlike
kinders moet op die ouderdom van 8 dae besny word.
Jahweh kom ook weereens in
Bereshit (Genesis) 22:16-18 en bevestig Sy verbond met Abraham.
Na die geboorte van Esau en
Ja'akob bestig Jahweh weer in Genesis 26:2-5 die verbond wat Hy met Abraham
gesluit het ook met Isak. ‘n Verdere bevestiging vind weer plaas in vers 24.
Jahweh was baie beslis oor hierdie verbond en wou ‘n volk berei om Hom te dien
soos wat Hy oorspronklik by die skepping dit wou hê.
Jahweh bly soos altyd
getrou en in Bereshit 28:13-15 bevestig Hy ook hierdie verbond wat Hy as Elohim van
Abraham en
Elohim van Isak met Abraham en
Jitshak gesluit het. Let wel dit is nie elke
keer ‘n nuwe verbond nie. Dit is ‘n herbevestiging van Jahweh aan Sy
geroepene omdat die mens so maklik vergeet. In
Bereshit 35:9-12 bevestig Jahweh
aan Ja'akob, wie se naam Hy nou verander na Israel (Isra-El), die verbond wat Hy
met Abraham en Jitshak gesluit het.
Voordat
Ja'akob aftrek na Egipte bevestig Jahweh aan hom (Ber/Gen 46:3,4) dat Hy (Jahweh) saam
met Jakob sal trek. Daar sal Hy Ja'akob (soos aan Abraham gesê in Ber/Gen15:13) ‘n
groot nasie maak en hom (Israel as volk) weer sal terug bring.
Jahweh
roep Moshe in Shemot (Exodus) 3:4-12 (lees Exo 3:1 – 4:17) om sy volk uit die slawerny
en ellende te gaan lei. Dit wil ook voorkom of Moshe wat ‘n baie onwillige
geroepene en gestuurde was, nie die verbond met Abraham geken het nie en dit dus
ook nie uit gevoer het nie. Alhoewel Moshe moontlik reeds besny was as baba was
sy seun nie besny nie. Oppad na Egipte wou Jahweh hom (Moshe) doodmaak. Die rede
is nie duidelik nie maar ons lees dat nadat Sippora (Moshe se vrou) hul seun
besny het en Moshe opgeëis het as ‘Bloedbruidegom’, het Jahweh hom laat
staan.
Jahweh
maak Sy ewige Verbondsnaam, JHVH (Jahweh), aan Moshe bekend. Die Naam wat
Hy nie aan Abraham, Isak of Jakob bekend gemaak het nie (Shem/Exo 6:2). Hy bevestig
met Moshe die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en dus nou
Sy verbond met Israel is. Hy sal hul God (Magtige, Elohim) wees en hulle sal vir
Jahweh ‘n volk wees (Shem/Exo 6:3-7). Daarmee saam kry hul ook die Beloofde Land!
Ons sien
dus hier dat Jahweh ten spyte van ‘n tydperk van ongeveer 700 jaar Sy verbond
met Abraham nie vergeet nie. Inteendeel Hy hernu en rig dit weer op al het die
mense met wie Hy dit gesluit het dit dalk vergeet.
Jahweh
stel die Pasga in as feesmaal ter herrinering aan die verlossing uit die
slawerny van Egipte en gee duidelik opdrag dat GEEN onbesnedene daarvan mag eet
nie (Exo:12:48)! Hoekom? Hulle het nie deel aan die verbond nie! So eenvoudig
soos dit! Die verbondsteken is die besnydenis. Jahweh brei die verbond beginsels
verder uit in Exodus 13. Hy eis dat elke eersgeborene aan Hom gewy moet word.
In die
woestyn en by die berg Sinai verbreed Jahweh die verbond deur verskeie wette en
beginsels. Die belangrikse of bekendste die 10 gebooie (Shem/Exo 20/Deb/Deut 5). By
verskeie geleenthede luister Israel nie en wil Jahweh hulle uitroei (Shem/Exo:32).
Die wette sluit in hoe Jahweh gedien moet word, hoe elkeen teen sy naaste moet
optree, persoonlike higiëne, ens.
Wat
egter hier van belang is, is dat daar nou van ‘n vergadering, gemeente, in
Hebreeus qahal, gepraat word. Die werklike eerste groot gemeente van Jahweh.
Deur
die volgende klompie eeue gaan die lewe vir Israel maar baie op en af.
Hulle luister nie na Jahweh se opdragte om die heidense volke in Kanaän uit te
roei nie. Die gevolg is dat die gebruike van die heidense volke se afgode kruip
stelselmatig by Israel se aanbidding in. Dit veroorsaak dat Jahweh - onthou Hy
is ‘n JALOERSE EL - Israel keer op keer straf. Hierdie straf kom op verskeie
maniere, maar meesal deur die oorheersing van een of ander naburige volk.
Jahweh draai Hom dan weg van Sy volk tot hulle weer in hul
ellende tot Hom terugkeer en Hom aanroep. Hy gee dan weer verlossing en so hou
dit aan. Uiteindelik gaan hulle (Israel) teen Sy wil en vra vir ‘n koning. Na
koning Saul word Dawid as koning gesalf en word sy koningskap ook bevestig asook
die verbond (II Shem/Sam 7:13,14 & Ps 89:4,5).
Salomo het vir Jahweh ‘n tempel gebou en die Ark van die
Verbond was daarin geplaas. Ongelukkig het die grootste deel van die volk meer
op die tempel en ark vertrou (uiterlike dinge) as op Jahweh self. Jahweh het ook
weer vir Salomo gewaarsku om nie af te dwaal en ander gode te dien nie maar om
Sy (Jahweh) se gebooie en insettinge te onderhou (I Kon 8:4-7). Salomo se
menigte vrouens en byvrouens het uiteraard nog meer van die afgode Israel se
grondgebied binne gebring. Salomo het agter Astarte aangegaan (Lees The Two
Babylons en sien die verband tussen Astarte, Semiramis en sonaanbidding)(I
Kon 11:4-8). Jahweh het besluit omdat Salomo die verbond verbreek het, sal
Jahweh sy koninkryk skeur.
Jahweh kondig aan dat Jerobeam koning sal word oor 10
stamme. Hy eis ook van Jerobeam getrouheid t.o.v. Sy gebooie en insettinge.
Jahweh sal dan ook met Jerobeam se koningskap seën. Met Rehabeam se
troonbestyging gebeur dit dan ook so. Jerobeam, bang dat sy volk (hy vertrou
Jahweh nie) wat in Jerusalem aanbid van hom afvallig sal word, bring idole in.
Weer goue kalwers soos deur Israel in die woestyn! (I Kon 12:28).
Rehabeam was nie veel beter nie en het verskeie afgode
ingevoer en vermeng met hul aanbidding (I Kon 14:22-24). So het dit voortgegaan
totdat Jahweh Sy mense laat wegvoer het in ballingskap (Jes 5:13). Daar was
altyd ‘n deel wat agtergebly het en die aanbidding het plaasgevind op maniere
wat normaalweg vir Jahwehnie
aanvaarbaar was nie.
Esegiël word deur Jahweh gewys hoe die volk Tammuz aanbid
(Eseg 8:14). Ons vind ook dat Jahweh die Jode (Juda/Jahudim) aankla dat hulle die
hemelkoningin (Astarte, Semiramis) aanbid (Jer 44:17). Hulle het die verbond
verbreek (Jer 11:10). Dit is die tyd wat Jahweh hulle oorgee aan hul slegte
gewoontes en hulle blind maak vir die waarheid (Eseg 20:25). Jaweh laat alles
wat sleg is op hulle afkom (Eseg 16:59).
Jahweh bly egter getrou en sal weer aan die oorpronklike
verbond dink en dit weer vir ewig oprig (Eseg 16:60-62). Jeshajahu kondig die
Messias se koningkryk, die heroprigting van die Huis van Dawid, aan. Dit is
weereens ‘n tyd waar Jahweh Sy volk sal loskoop (Jes 11). Hy kondig ook aan
dat Babilon sal val sowel as al die ander hoofsentrums van sonaanbidding: Assirië,
die Filistyne, Moab, ens (Jes 14,15,16). Hy, Jahweh, roep Sy volk om uit Babel
te kom (Jes 48:20).
Jahweh roep Sy mense bymekaar en wil graag ‘n nuwe ewige
verbond sluit (Jes 55:3, 61:8). Jahweh wil sy volk se harte van klip uithaal en
harte van vleis gee. Hy wil ook Sy gebooie op hul harte skryf, sodat almal sal
weet hoe om Hom te aanbid en te volg en niemand mekaar hoef aan te spreek
daaroor nie (Jer 31:31-34).
Lees gerus die profetiese boeke t.o.v. die koms van die
Messias en die Nuwe verbond wat Jahweh wil sluit.
J’shua Messias is gebore. Hy het gesterf. Hy het
opgestaan. Hy het Sy dissipels opdrag gegee om die blye evangelie te gaan
verkondig en dissipels te maak van al die nasies. Is dit nou ‘n Nuwe Verbond
wat die Ou of vorige Verbond tot niet laat gaan het?
Die antwoord vind ons in Hebreërs 8:13; “As Hy sê ‘n
nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud geword het en verouder,
is naby die verdwyning.” Wat die Woord hier duidelik sê is dat hierdie nuwe
toevoeging of verandering die vorige vervang. Beteken dit dat die
Verbondsbeginsels ook verval?
Nee!. Jahweh sê Hy sal Sy gebooie op ons harte skryf
(Jes31:33, Heb 8:10). Sy gebooie verander nie. Dit bly dieselfde. Die verskil lê
daarin dat ons nou die gebooie tot uitvoering bring omdat Sy Gees in ons is en
ons dit WIL doen! Nie meer om verlossing te ontvang nie. Nee, dit het ons reeds
gekry! Nou om uit dankbaarheid teenoor J’shua te doen wat Hy van ons vra. Soos
wat Hy in Johannes 14:15 aan Sy dissipels sê: “As julle My liefhet, bewaar my
gebooie.” (sien ook Joh 14:21). Het J’shua en Jahweh dalk verskillende
gebooie?
Baie beslis nie! Jahweh en J’shua is EEN (Joh 17:3)! Daar
is nie verskillende gebooie van Jahweh en J’shua nie. Dit is alles dieselfde.
J’shua het egter gekom en die gebooie kom duidelik maak. Hy het kom wys dat
hierdie gebooie in werklikheid liefdesgebooie is (Matt 5, Joh 13:34). Verder
stel J’shua self ook dit duidelik dat Hy nie gekom het om die wet of gebooie
te ontbind of nietig te verklaar nie, maar sodat die betekenis daarvan ten volle
sal uitkom en om dit te vervul (Matt 5:17). Hy bevestig dat die beginsels van
die verbond (gebooie) sal bly voortgaan tot alles afgehandel is. (Matt 5:18).
Soos reeds vroeër gesien het die gemeente
(vergadering/qahal) reeds met Abraham onstaan toe die Verbond oorspronklik met
hom deur Jahweh gemaak is. Op die aller laatste kan ons dalk sê dit was met die
bekendstelling van Jahweh aan die Israeliete in Egipte en die instelling van die
Pesach.
Hierdie gemeente van Jahweh het glad nie verander nie. Dit
bly dieselfde. Dit is daardie olyfboom waarvan ons in Romeine 11 lees. Israel is
die olyfboom (die gemeente) en die nuwe gelowiges uit die heidene is die wilde
takke wat daar ingeënt is. Dus die gemeente (Bruid) van J’shua bly dieselfde.
Van die lede is weg en ander het bygekom. Ons lees ook dat die tyd sal kom dat
die afgebreekte takke teruggeënt sal word op die regte tyd. Jahweh sal Israel
op Sy tyd herstel. Dit bly egter die EEN gemeente.
Daar is egter een probleem! Jahweh roep ons elkeen om uit
Babilon te kom sodat ons kan deel hê aan hierdie gemeente. Hy roep ons om Sy
volk te wees. Hy wil vir ons ‘n Elohim
wees, op Sy voorwaardes. Hy wil ook aan ons die Beloofde Land gee! Dit is die
Hernieude Verbond! Die Ware Verbond! Het jy al uit Babilon gekom? Het jy al
deelgenoot geword van die Gemeente?
Onthou J’shua se woorde: “So sal die wat laaste is,
eerste wees, en die die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min
is uitverkies.” (Matt 20:16).
Moenie dink dat jou denominasie jou sal red nie! Kom uit
Babel!
Mag Jahweh deur Sy Gees jou verstand en gees open sodat jy
nie meer blind is nie en ook jou ore sodat jy nie meer doof is nie. Hy wil ook
vir jou uit die duisternis laat kom!