Tuis-Home
Op-Up

 

Die Naam van ons Vader

Wanneer Jan geroep word, maar op die naam Gert, gaan Jan beslis nie daarop ag slaan nie. Ons vind ook dat die meerderheid van mense baie gesteld is op hul naam. Dit is dan tog ook soos die spreekwoord sê jou eer. Meeste mense is baie gesteld dat hul naam  - voornaam, van of volle name en van – korrek gespel moet word. Johann met 2 n’e moet tog onder geen omstandighede met net een gespel word nie.

Sommige ouers het weer die gewoonte om kinders met verkleiningsvorms aan te spreek soos Pieter word Pietertjie of Pietie. Alhoewel dit liefdevol bedoel was aanvanklik, word dit later ‘n sware las, want “Pietertjie” is op 16 al reeds 2 meter lank. Hy wil nie meer “Pietertjie” wees nie. Hoewel hy dalk nie met sy ouers gaan baklei nie kan dit tot baie dinge op die skoolgrond lei.

Ten spyte daarvan dat ons so gesteld is op ons eie name blyk dit dat die Naam van ons Vader nie werklik belangrik is nie. Die feit dat ons Hom aanspreek met ‘n titel – Die HERE - wat ook nog ‘n duistere oorsprong het gaan maar by meeste verby. Aanvanklik het die Skepper Elohim Sy Naam nie bekend gemaak nie en staan Hy bekend as die Elohim (of Elohim) van Abraham, later die Elohim van Isak en daarna as die Elohim van Jakob. Aan hulle was Hy slegs bekend as die Almagtige (El Shaddai)(Shem/Exo 6:2)

 Ons Vader maak egter aan Moses Sy Ewige Verbondsnaam, JHWH, (Jahweh) bekend. (Shem/Exo 3:14, 6:2). Tog sal bybelvertalers, kerke, ensovoorts voortgaan om hierdie Naam te ontken of weg te vertaal. Dit dui ‘n totale tekort aan respek vir ons Vader JHWH. In die ou Afrikaanse vertaling was daar nog tot ‘n mate onderskeid, aangesien Adonai (Meester) met Here vertaal is en JHWH met HERE. Dit het dan gelees die Here HERE (die Meester JHWH of die Adonai Jahweh). In die 1983 is dit egter veel erger. Nou weet niemand wanneer daar na Adonai of na Jahweh of die Adonai JHWH verwys word nie. Alles het sommer net die Here geword. Tog dui JHWH self aan dat dit Sy Naam vir ewig is, ja Sy gedenknaam van geslag tot geslag (Shem/Exo 3:15).

 “Jy mag die Naam van Jahweh jou Elohim nie ydellik gebruik nie, want Jahweh sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Shem/Exo 20:7, Deb/Deut 5:11). So lui die derde gebod. Die term ‘ydelik gebruik’ kom van die Hebreeuse word ‘shav’. Ons vind hierdie selfde woord ook in die negende gebod waar dit vertaal word met ‘valse’. Ons kan dan die derde gebod as volg lees: “Jy mag die Naam van Jahweh jou Elohim nie vervals nie, want JHWH sal die een wat sy Naam vervals, nie ongestraf laat bly nie”.

Die Skrif leer ons voorts: "…JJHWH, die Elohim van jul vaders, …, het my na julle gestuur. Dit is My Naam vir ewig, en dit is My gedenknaam van geslag tot geslag." (Shem/Exo 3:15). "EK is JHWH, dit is My Naam; en My aansien sal Ek aan geen ander gee,…" (Jes 42:8). Dit blyk duidelik dat JHWH se Naam ook Sy Eer of eerder Aansien is. Wil jy Hom dit ontneem? Dit kan jou duur te staan kom. Ons het almal onder leiding van die Bybelvertalers, verskillende denominasies en andere hierdie AANSIEN van ons Vader JHWH ontneem. "Ons Verlosser – Sy Naam is JHWH van die leërskare, die Kodesh(Afgesonderde [Heilige])1 van Israel." (Jes 47:4).

Dit is dalk nie so maklik om te aanvaar nie, maar dit het tyd geword dat ons ons Elohim JHWH dien soos Hy voorskryf en nie soos ons dink nie. Dit het tyd geword dat ons Hom aanspreek op die Naam wat Hy aan ons bekend gemaak het. Dit is die Naam van ons Verlossing, die Naam wat oor ons uitgeroep is, die Naam JHWH! "Maar tevergeefs dien hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is" (Matt 15:9)2.

Hier onder volg ‘n paar van die vorme wat vandag algemeen in gebruik is:

YHVH YHWH JHVH JHWH Yahweh Yahveh Yaveh Yaweh Jehova Jehovah Jahova Jahovah Yahova Yahovah Jahowa Jahowah Yahavah Jahavah Yahowe Yahoweh Jahaveh Jahaweh Yahaveh Yahaweh Jahuweh Yahuweh Jahuwah Yahuwah Yahuah Yah Jah Yahu Yahoo Jahu Yahvah Jahvah Jahve Jahveh Yahve Yahwe Yawhu Iahu Iahou Iahoo Iahueh

Alhoewel dit wil voorkom dat die Naam van JHWH veskuil was in die Masoretiese teks om te voorkom dat die Naam ydelik gebruik of gelaster word, het die nuutste inligting en navorsing blykbaar getoon dat die korrekte spelling geskryf in Afrikaans Jahu’eh behoort te wees. Die ‘w’ is veronderstel om sag te wees. Tot tyd en wyl ons sekerheid het sal ons JAHUWEH, JAHWEH of JHWH gebruik op hierdie blad.


Notas:

1. Die term heil, heilig, Heilig, Heiland, ens. sal in ‘n afsonderlike lering hanteer word.

2 Aangehaal deur J’shua vanuit Jeshajahu (Jesaja) 29:13. Sien ook Jeshajahu 10:1.

Addisionele Inligting Beskikbaar:

Kom uit Haar uit, My volk / Come out of her, My people - CJ Koster

Fossilized Cutoms - Lew White

 


Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte