Tuis-Home
Op-Up

 

n Sabbat Studie

 

 

1.          Inleiding

Die Sabbat van JHWH is deur baie eeue heen ‘n baie kontroversiële onderwerp gewees. Derduisende Jahudim (Jode) en ander gelowiges is vermoor weens Sabbats-onderhouding. Daar is ook baie bekentenisse deur Roomse en Protestantse leiers en predikers gemaak t.o.v. die Sabbat en die Sondag. Verskeie groepe en mense het selfs die vermetelheid om Sondae nou die Sabbat te noem.

Die doel van hierdie studie is egter nie om na die geskiedenis of hedendaagse gebruike te kyk nie, daarvan is daar al genoeg gedoen. Veel eerder moet daar gekyk word wat die Skrif sê, die Woord van JHWH! Nie profesore nie! Nie geleerde doktore of predikante nie, maar die Woord van ons Almagtige, Onveranderlike Skepper Vader, JHWH!

2.          Instelling van die Sabbat

Waar kom die Sabbat dan nou eintlik vandaan? Is dit nie eers in Shemot (Bereshit) 20 met die 10 Woorde (10 Gebooie) wat JHWH die opdrag van die Sabbat aan Moshe (Moses) gegee het nie? Is dit nie net vir die “Jode” nie? Dit is van die gereelde vrae wat voorkom. Veral van die anti-semitiese en anti-Israel groeperinge. Hulle reken (al weet ons dit is nie waar nie!) dat as dit vir Jisra’el by Sinai gegee is, is dit nie op hulle van toepassing nie!

Die feite van die saak is egter baie anders. Reeds in Shemot 16 het JHWH opdrag gegee t.o.v. die viering van die Sabbat:

En hy het vir hulle gesê: “Dit is wat JHWH gesê het: ‘Môre is dit rusdag, ʼn afgesonderde Sabbat van JHWH.’ Wat julle wil bak, bak dit en wat julle wil gaarmaak, maak dit gaar. En bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe.”

En Moshe het gesê: “Eet dit vandag, want dit is vandag die Sabbat van JHWH. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.

“Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit Sabbat; dan sal dit daar nie wees nie.

“Kyk, omdat JHWH julle die Sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is. Laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.”   -  (Shem 16:23, 25, 26, 29)

Dit is die eerste plek waar dit in die 1933/53 vertaling voorkom. In Bereshit (Genesis) 2 vers 2 kry ons egter die volgende weergawe:

En Elohim het op die sewende dag Sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al Sy werk wat Hy gemaak het.

En Elohim het die sewende dag geseën en dit afgesonder, omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk wat Elohim geskape het deur dit te maak.  – (Ber 2:2-3)

Die vertaling hierbo is baie naby aan die 1933/53 vertaling maar is wel op sekere plekke aangepas om die korrekte Name te toon sowel as klein sinsbou veranderinge. Dieselfde woord gerus word egter in albei vertalings en in albei verse gebruik om die werkwoord SHABAAT weer te gee. Ons sien dus dat die vertalings wat ons gebruik – of dit nou is om dinge duideliker te maak al dan nie – tot ‘n groot mate verantwoordelik is vir die wanindruk wat daar bestaan t.o.v. die oorsprong  en instelling van die Sabbat. Ons sien dat JHWH op die sewende dag nie net gerus (SHABAAT) het nie maar Hy het dit ook geseën en afgesonder (sommige vertalings verkies die sonaanbiddings term ‘heilig’).

3.          Is die Sabbat opgeskort?

Alhoewel die mens na die sondeval uit die Tuin van Eden (asseblief nie die oosterse woord Paradys nie) verjaag is kan ons nie nou aanneem dat JHWH eweskielik die Sabbat opgeskort het nie. Dit is nie die wyse waarop Hy Hom aan ons in die Skrif geopenbaar het nie.

Daar is van die Skrifverklaarders wat wil voorgee dat die woorde van JHWH in vers 17 van Bereshit 3 aandui dat Adam “elke dag” met moeite sou eet en dat die Sabbat hier verval het of opgeskort is. Die feit is egter dat die vertaling korrek die Hebreeus weergee wanneer dit “al die dae” gebruik. Die meervoud is hier van toepassing en beteken dus beslis solank as wat Adam op aarde leef. Hier is dus géén sprake van opskorting van die Sabbat nie.

Ons kan nie aannames in ons geloof maak en dit as reëls daar gaan stel nie. Indien ons hier egter gedwing word om ‘n aanname te maak is die logiese dat die Sabbat nie opgeskort is nie omdat JHWH NOOIT verander nie (Mal 3:6)!

4.          Herbevestiging van die Sabbat

Die vrae wat by ‘n mens opkom is dan: Hoekom lees ons nêrens dat Abraham die Sabbat gevier het nie, of selfs Hanok (Henog) of Noag? Hoekom hoor ons eers weer van die Sabbat ná die verlossing uit Mitsrajim (Egipte)?

Wat bogenoemde vrae betref kan ons maar slegs wonder en aflei dat dit deel van die verslegting van die mens was na die sondeval. Nie ‘n verandering van JHWH se kant nie maar ‘n stelselmatige wegdrywing van die mens van sy Elohim. Selfs die Ibrim (Hebreërs) in Mitsrajim weet na alle waarskylikheid nie veel daarvan af nie, en al het hulle moes hulle elke dag van ligdag tot donker swoeg.

Intussen het JHWH besluit dat die tyd ryp was om Sy uitgesoekte volk – soms wonder ‘n mens waarom húlle – te verlos van die slawerny en om hulle in die beloofde land te lei volgens Sy beloftes aan Abraham, JitsHak en Ja’akob. Die geskiedenis is baie bekend. Die tien plae. Die instelling van die Pĕsach (paasfees – gaan verby). Hierdie is opsigself ‘n teken van geloof en is ook die rede hoekom die Ibrim uiteindelik verlossing ontvang, net soos wat ons vandag die verlossing onvang deur geloof in Jahushua se versoeningsoffer op Golgota.

Die slag van skape was ‘n gruwel in die oë van die Mitsrajiete (Egiptenare), aangesien die skape vir hulle besonder spesiaal en afgesonderd was. Om ‘n skaap te slag het dus die potensiaal gehad om die wraak van die Mitsrajiete op jou af te bring en moontlik die dood. Dus kan ons aflei dat indien hierdie finale plaag nie sou werk nie, sou die farao al die mense (Ibrim en ‘n menigte ander – sien Shemot 12:38) wat die skaaplammers geslag het, doodmaak.

Nog ‘n aanname wat ons kan maak sonder dat dit gevaarlik kan wees of ‘n mens in ‘n verkeerde rigting sal stuur is dat JHWH deur Moshe reeds voor die aankoms by Ĕlim (Shem 15:27) sekere reëls, wette en onderig (Torot – meervoud van Tora) gegee het. Dit word afgelei uit die woorde van Shemot 15 vers 26:

“Indien jy getrou na die stem van JHWH jou Elohim luister en doen wat reg is in Sy oë, en na Sy gebooie luister en al Sy wette hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op die land van Mitsrajim gelê het nie, want Ek is JHWH wat jou gesond maak.”  - (Shem 15:26)

Alhoewel hulle voor die tyd gewaarsku kon wees, sou dit meer logies wees dat hulle reeds sekere inligting ontvang het soos die Pĕsach as voorbeeld. Die Pĕsach en die Ongesuurde Brode, is begin en geëindig met spesiale Sabbatte. Dit bring mee dat ons kan aanneem dat hulle reeds ‘n begrip vir die Sabbat gehad het.

Die kersie op die koek is egter in Shemot 16 duidelik sigbaar. JHWH bevestig die Sabbat in sy eie reg, deur dit opnuut weer in te stel vir die volk van Jisra’el. Uiteindelik word hulle ‘n rusdag gegee (nie net vergun nie!) waarop hulle nou moet rus van alle vorme van hul daaglikse take.

En hy het vir hulle gesê: “Dit is wat JHWH gesê het: ‘Môre is dit rusdag, ʼn afgesonderde Sabbat van JHWH.’ Wat julle wil bak, bak dit en wat julle wil gaarmaak, maak dit gaar. En bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe.”

En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moshe beveel het; en dit het nie bederf nie, en daar het geen wurms in gekom nie.

En Moshe het gesê: “Eet dit vandag, want dit is vandag die Sabbat van JHWH. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.

“Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit Sabbat; dan sal dit daar nie wees nie.”

En op die sewende dag het van die mense uitgegaan om in te samel, maar hulle het niks gekry nie.

En JHWH het vir Moshe gesê: “Hoe lank weier julle om My gebooie en My wette te onderhou?

“Kyk, omdat JHWH julle die Sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is. Laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.”  - (Shem 16:23-29)

Wat interessant is hier, is die feit dat JHWH die Sabbat hier op sigself bevestig. Die Sabbat en dan ook wel die sewende dag is vir JHWH afgesonder. Hy bevestig dit weereens in die Tien Woorde (10 Gebooie) in Shemot en Debarim (Deuteronomium):

“Onthou die Sabbatdag, dat jy dit afsonder.

“Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen,

maar die sewende dag is ʼn Sabbat van JHWH jou Elohim; dan mag jy géén werk doen nie – nie jy of jou seun of jou dogter, of jou dienaar of jou dienares, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.

“Want in ses dae het JHWH die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het JHWH die Sabbatdag geseën en dit afgesonder.  – (Shem 20:8-11)

‘Onderhou die Sabbatdag, om dit af te sonde soos JHWH jou Elohim jou beveel het.

‘Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;

maar die sewende dag is die Sabbat van JHWH jou Elohim; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienaar of jou dienares, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienaar en jou dienares kan rus soos jy.

‘En jy moet daaraan dink dat jy in die land van Mitsrajim ʼn slaaf was, en JHWH jou Elohim jou daarvandaan uitgelei het deur ʼn sterke hand en ʼn uitgestrekte arm; daarom het JHWH jou Elohim jou beveel om die Sabbatdag te hou.  – (Deb 5:12-15)

Hier sien ons duidelik dat ons Meester JHWH die Sabbat herinstel en bevestig. Dit volg ook ‘n logiese patroon: eers word daar vir ses dae lank gewerk, geswoeg en gesweet, en dan volg ‘n wonderlike dag van absolute rus. Hoe kan enige iemand dink om dit andersom te doen: eers rus en dan werk? Vader JHWH is egter so ernstig oor hierdie saak dat Hy weer in Shemot hoofstuk 31 dit bevestig:

“Praat jy met die kinders van Jisra’ĕl en sê: ‘Julle moet sekerlik My Sabbatte onderhou, want dit is ʼn teken tussen My en julle en julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek JHWH is wat julle afsonder.

‘Onderhou dan die Sabbat, want dit moet vir julle afgesonderd wees. Hy wat dit verbreek, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié wese moet uitgeroei word onder sy volksgenote.

‘Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit ʼn dag wees van volkome rus, afgesonder aan JHWH. Elkeen wat op die Sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word.

‘En die kinders van Jisra’ĕl moet die Sabbat onderhou deur die Sabbat te vier in hulle geslagte as ʼn ewige verbond.

‘Tussen My en die kinders van Jisra’ĕl is dit vir ewig ʼn teken; want in ses dae het JHWH die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.’”  - (Shem 31:13-17)

5.          ‘n Ewige Teken

Hoe lank is vir ewig? ‘n Duisend jaar? Tien Duisend jaar? ‘n Miljoen jaar? Die normale beskrywing is ‘n tyd wat altyd was en altyd sal aanhou en nooit ophou nie. Dus, wanneer JHWH in Shemot 31 verse 13 en 17 sê dit is ‘n teken vir ewig en vir alle geslagte van Jisra’ĕl, dan bedoel Hy dit sal nooit ophou nie.

In Openbaring 7 vers 3 word gepraat van ‘n seël of ‘n teken op die voorkoppe van die gelowige en getroue dienaars van JHWH. Hulle staan ook as die verseëldes bekend. Ook in JeHeskĕl (Esegiël) 9 vers 4 moet die getroues, diégene vir wie die sonde ‘n gruwel is, op hulle voorkoppe gemerk word. Is hierdie nie die teken wat die onderskeid gaan tref tussen die verseëldes en die verlorenes nie? Moenie vir een oomblik dink jou kleindoop (besprinkeling) op die voorkop gaan die teken wees nie! Allermins! Dit was ook maar net weer een van die dinge wat van Rome en Babel geërf is. Nee, weet verseker dat die teken en die seël beslis iets ewigs is. In JeHeskĕl 20 verse 12 en 20 vind ons die volgende:

“Daarby het Ek ook My Sabbatte aan hulle gegee om ʼn teken tussen My en hulle te wees, dat hulle kan weet dat dit Ek, JHWH, is wat hulle afsonder. – (JeH 20:12)

‘En sonder My Sabbatte af. En hulle sal ʼn teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek JHWH julle Elohim is.’  – (JeH 20:20)

Weereens sien ons duidelik dat hierdie Sabbatte van JHWH die teken is dat ons aan Hom behoort, en dat Hy ons Elohim is. Wie anders vier Sabbat? Niemand!

In JeHeskĕl 44 vers 24 bevestig JHWH dit weereens:

“En oor ʼn regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens My regs-reëlings moet hulle dit uitoefen. En hulle moet My Torot[i] en My wette hou op al My feestye en My Sabbatte afsonder.

Hoe kan daar by enige iemand twyfel wees oor die vastigheid van die Sabbat?

6.          Geen Besigheid

Nehemja (Nehemia) huil voor JHWH oor die verbreking en skending van die Sabbat. Hy kondig ook maatreëls aan om alle sake transaksies te stop. Hy dreig selfs die heidense handelaars met die dood indien hulle sou voortgaan om buite die poort te slaap.

“En U het U afgesonderde Sabbat aan hulle bekend gemaak, en bevele en wette en Torot deur die diens van U dienaar Moshe hulle beveel.  – (Neh 9:14)

en indien die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die Sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die Sabbat of op ʼn afgesonderde dag nie, en dat ons in die sewende jaar die land braak sou laat lê en die rente van elke hand.  – (Neh 10:31)

In dié dae het ek in Jahuda mense gesien wat op die Sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op donkies gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die Sabbatdag in Jerushalajim bring. En ek het hulle gewaarsku op die dag wat hulle kos verkoop het.

En mans van Tsor het daar gewoon, hulle het vis en allerhande koopware in-gebring en op die Sabbat aan die kinders van Jahuda selfs in Jerushalajim verkoop.

En ek het met die edeles van Jahuda getwis en vir hulle gesê: “Watter bose ding is dit wat julle doen, dat julle die Sabbatdag skend?

“Het julle vaders nie dieselfde gedoen, sodat ons Elohim oor ons en oor hierdie stad al hierdie teëspoed gebring het nie? Tog vermeerder julle die toorn oor Jisra’ĕl deur die Sabbat te skend!”

En dit het gebeur in die poorte van Jerushalajim net voor die Sabbat begin donker word het, het ek beveel dat die deure gesluit moes word, en ek het beveel dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die Sabbat nie. En van my mense het ek by die poorte aangestel, sodat geen vrag op die Sabbatdag mag ingekom  het nie.

En die koopmans en handelaars in allerhande ware het ʼn paar keer buite Jerushalajim oornag.

En ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom oornag julle voor die muur? Indien julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan.” Van dié tyd af het hulle nie meer op die Sabbat gekom nie.

En ek het die Leviete beveel dat hulle hul moes reinig en as poortwagters kom om die Sabbatdag af te sonder. Dink ook hierom aan my, my Elohim, en ontferm U oor my volgens die grootheid van U guns.  – (Neh 13:15-22)

Het dit nie tyd geword dat ons met dieselfde ywer vir die Sabbat van JHWH, vir die teken wat Hy ons gegee het om ons te onderskei, opstaan nie?

7.          Jahushua en die Sabbat

Wanneer ons in die Hernude Verbondsgeskifte kom, veral die Goeie Nuus of Blye Boodskap, is daar veral diegene wat weer na verskeie grashalms soek. Hulle probeer gou vir ons vertel dat Jesus (kursief omdat dit die vervalste naam is, die korrekte Hebreeuse Naam is Jahushua) op die Sabbat gewerk het. Wat ‘n leuen. J’shua (afkorting) het mense genees, Hy het hulle verlos en Hy het voortgegaan met Sy instandhoudingstaak wat Hy vanaf die skepping nog altyd doen. Wanneer J’shua sê dat Sy Vader nog altyd gewerk het en daarom werk Hy ook (JoH 5:17), praat Hy nie van skeppende werk nie maar instandhouding van die heelal en die bewoners daarvan.

Op grond waarvan kan dit gesê word? Eenvoudig, J’shua het die Tora perfek en volmaak uitgevoer en gehou. Onder geen omstandighede het Hy dit enigsins verbreek nie (Joh 8:46).

Diegene wat gretiglik en vol ywer teen die Sabbat stry haal ook graag die volgende aan:

“Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en indien dit op die Sabbat in ʼn sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?”  - (Matt 12:11)

En Hy het vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie.  – (Mar 2:27)

Hieroor het die Jahudim toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die Sabbat verbreek het nie, maar ook Elohim Sy eie Vader genoem het en Hom met Elohim gelykgestel het.  – (Joh 5:18)

Wat J’shua kom doen het is om aan ons as mense die werklike waarde en betekenis van die Sabbat te wys. Dit gaan nie oor afsondering sonder JHWH nie. Dit is waar die barmhartigheid inkom. J’shua het gerus van normale take en slegs met Sy opdrag voortgegaan: Die verkondiging dat die Koningkryk (Regering) van JHWH naby gekom het!

J’shua het nie die Sabbat verbreek soos die Jahudim geglo het nie, maar Hy het wel die gebruike en oorleweringe verbreek. In Mattitjahu praat J’shua juis teen die tradisies, gebruike en oorleweringe wat die Tora van JHWH vervang. Hy het dit nie teen goeie gebruike of tradisies nie, maar teen dit wat JHWH se Tora tot niet maak of vervang!

Wat het J’shua dan op die Sabbat gedoen? Leringe gegee, genesing – liggaamlik en geestelik, gekuier:

En daar was ʼn man met ʼn verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: “Is dit geoorloof om op die Sabbat gesond te maak?” - sodat hulle Hom sou kan aanklae.

Maar Hy sê vir hulle: “Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en indien dit op die Sabbat in ʼn sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?

“Hoeveel meer is ʼn mens dan nie werd as ʼn skaap nie! So dit is dan geoorloof om op die Sabbat goed te doen.”

Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit!” En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.  – (Matt 12:10-13)

En toe dit Sabbat geword het, het Hy begin om in die gemeente te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en en het gesê: “Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur Sy hande plaasvind?   - (Mar 6:2)

Toe kom Hy in Nátsaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die Sabbatdag in die gemeente en staan op om te lees.  – (Luk 4:16)

En Hy het afgekom na Kefar Nahum, ʼn stad van Galil, en hulle op die Sabbatte geleer.  – (Luk 4:31)

En op ʼn ander Sabbat het Hy in die gemeente gegaan en geleer. En daar was ʼn man, en sy regterhand was uitgedor.  – (Luk 6:6)

En Hy was besig om op die Sabbat in een van die gemeentes te leer.

En daar was ʼn vrou wat ʼn gees van swakheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.

En toe J’shua haar sien, roep Hy haar en sê: “Vrou, jy is van jou swakheid verlos.”  - (Luk 13:10-12)

“Maar hierdie vrou wat ʼn dogter van Abraham is, wat die Satan - dink daaraan! - agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die Sabbatdag verlos word nie?”  - (Luk 13:16)

En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Fariseërs gegaan het om brood te eet op die Sabbat, het hulle Hom in die oog gehou. -  (Luk 14:1)

Die man het gegaan en aan die Jahudim vertel dat dit J’shua was wat hom gesond gemaak het.

En hieroor het die Jahudim J’shua vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die Sabbat gedoen het.  – (Joh 5:15-16)

En dit was Sabbat toe J’shua die klei gemaak en sy oë geopen het.  – (Joh 9:14)

In Sy loopbaan as Prediker het J’shua by baie mense gekom. Hy het volgens gebruik en tradisie van die Jahudim by verskeie mense tuis gegaan op Sy reise deur die streke van Galil en Jahuda en by verskeie mense geëet. Sodoende het Hy ook verskeie sieklike en besete mense teëgekom wat Sy hulp ook nodig gehad het. Hierdie mense het Hy NOOIT weggewys nie. Hy wys ook nou niemand weg wat na Hom soek en ‘n opregte begeerte na Hom het nie. Hy waarsku egter dat ons die koste moet bereken.

8.          … en Sondag dan?

Die vraag wat hopelik by baie nou sal opkom is hopelik: Waar kom Sondag dan in? Dis jammer, maar ander weer sal antwoord en sê dat dit die opstandingsdag van Jesus is. Dit is egter allermins waar.

Eerstens, is dit baie duidelik dat J’shua vir alle praktiese doeleindes teen die einde van die Sabbat opgestaan het.[ii] Hoe is dit moontlik? Ons is dan geleer Hy het Vrydag gesterf en Sondag opgestaan! Dit is dalk meeste lesers se reaksie. Dink bietjie! Tel ‘n bietjie! Hoe lank was Jona in die vis? Drie dae en drie nagte! J’shua het gesê Hy sal soos Jona in die vis was, drie dae en drie nagte in die aarde wees (Mattitjahu 12:39-41). Indien J’shua dus op Sondagoggend opgestaan het moes Hy Donderdagoggend begrawe gewees het. Indien Hy Vrydag dood is en teen die aand begrawe is sou Hy eers Maandag teen die aand opgestaan het!

Die dag wat hy gesterf het is Hy begrawe want teen skemer het die spesiale Sabbat van die Pĕsach begin. Hy is dus net voor son-onder begrawe. Daardie aand was die eerste nag. Die Skrif sê dat J’shua teen ligdag van die eerste dag (Sondag) reeds opgestaan het, want die graf was leeg! (sien Matt 28:1-8; Mar 16:1-6; Luk 24:1-6; JoH 20:1-10). Aanvaar dus Hy het die vorige aand teen skemer opgestaan dan was dit die einde van Sabbat (of volgens Roomse dae Saterdagaand vroeg). Tel nou drie dae terug en ons kry einde van die vierde dag (vroegaand Woensdag). Tel nou mooi:

·         Eerste nag – begin vyfde dag (Woensdagnag/Donderdagoggend)

·         Eerste dag – vyfde dag (Donderdag)

·         Tweede nag – begin van sesde dag (Donderdagnag/Vrydagoggend)

·         Tweede dag – sesde dag (Vrydag)

·         Derde nag – begin van sewende dag (Vrydagnag/Saterdagoggend)

·         Derde dag – sewende dag (Saterdag)

Tweedens, daar is GÉÉN Skriftuurlike aanduideing dat die Gestuurdes (Apostels) en gelowiges ooit die eerste dag gebruik het om die Sabbat te vervang nie! Weereens sal baie skree: Wat van Handelinge 20 vers 7; 1 Korinthiërs 16:2 of Openbaring 1:10? Kom ons beskou die verse bietjie van nader:

En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Sha’ul hulle toegespreek omdat hy die volgende dag sou vertrek. En hy het sy rede gerek tot in die middel van die nag.  – (Hand 20:7)

Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.  – (1 Kor 16:2)

Ek was in die Gees op die Dag van JHWH, en ek het agter my ʼn groot stem gehoor, soos van ʼn ramshoring,…  – (Opnb 1:10)

Die breek van brood was ʼn normale en alledaagse gebeurtenis vir die mense van die tyd en veral vir die gelowiges of “Die Weg”, soos Sha’ul daarna verwys. Daar is geen aanduiding dat dit ʼn Nagmaal was nie. In der waarheid was die Pĕsach reeds verby en Nagmaal is effektief deel van die Pĕsach.

Neem in ag dat ÁL die Gestuurdes Jahudim (Jode) was. Hulle het almal die Tora van JHWH soos deur Moshe gegee aan Jisra’el, gevolg. Hulle het egter nou van die addisionele laste wat die skrifgeleerdes op hulle gelê het weggebreek. Om geld egter op die Sabbat te hanteer was absoluut verbode. Vir Sha’ul is dit dus ongehoord om op Sabbat die geld eenkant te sit en in te samel. Die dag wat hy aanbeveel is die begin van die week: die eerste dag. Dit is nie die vervanging van die Sabbat nie.

In die 1933/53 vertaling staan daar “dag van die Here” en nie “Dag van JHWH” soos hierbo aangetoon nie. Die feit is egter dat hierdie term ten minste dertig keer in die Skrif voorkom en meer as drie honderd keer soortgelyk na verwys word. Hierdie term verwys spesifiek na die Dag van Oordeel. Dit word nie gebruik om die Sabbatte aan te dui nie. Wanneer JHWH na Sy Sabbatte verwys doen Hy dit direk by die naam.

Daar is natuurlik diegene wat vertel en leer dat Sha’ul (Paulus) vertel dat ons nie meer onder die Tora (wet) is nie en daarom hoef ons nie die Sabbat te hou nie. Wel, miskien sê Paulus so maar Sha’ul sê dit beslis nie:

Maak ons dan die Tora tot niet deur die geloof? Beslis nie! Inteendeel, ons bevestig die Tora.  – (Rom 3:31)

Dus is die Tora afgesonderd en die gebod is afgesonderd en regverdig en goed.  – (Rom 7:12)

Want ek verlustig my in die Tora van Elohim na die innerlike mens;

maar ek sien ʼn ander wet in my lede wat stryd voer teen die Tora van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.  – (Rom 7:22-23)

Bogenoemde is maar net kortliks. Dit kom amper voor asof Sha’ul homself weerspreek. Hy praat egter op sekere plekke van die wet van sonde en nie die Tora nie. Dit is egter nie deel van hierdie studie nie en sal op ʼn latere geleentheid behandel word.

Wat ook in ag gegeem moet word is dat die woorde van J’shua sekerlik meer gewig moet dra as die van Sha’ul, indien hy wel teen die Tora sou gepraat het. In Mattitjahu 5 verklaar J’shua onomwonde dat Hy nie enige deel van die Tora kom vervang of tot niet maak het nie:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die Tora of die Profete te vernietig nie. Ek het nie gekom om te vernietig nie, maar om te voltooi.[iii]

Ômĕn, want Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die Tora ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

“Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.  – (Matt 5:17-19)

Vers 19 het nogal interesante woorde. Of die term “minste” beteken om soos die vloerlap te wees binne die ryk van JHWH en óf dit beteken jy is buite Sy ryk, wil ek nie graag hier my oor uitlaat nie. Wat wel waar is, is dat almal sekerlik “groot” sal wil wees. J’shua laat dit egter nie hier nie en in hoofstuk 7 kry ons nog meer skokkende feite wat meeste predikers verkies om te ignoreer, want hulle hou nie van die implikasie nie!

“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.

“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

“Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ʼn Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

“So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ʼn slegte boom dra slegte vrugte.

“ʼn Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ʼn slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

“Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

“So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Meester, Meester!’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil van My Vader doen wat in die hemele is.

“Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Meester, Meester, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie kragte gedoen nie?’

“En dan sal Ek aan hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid werk!’  - (Matt 7:13-23)

Let veral op verse 21 tot 23. Indien die wil van die Vader (JHWH) nie GEDOEN word nie kom ʼn mens nie in die ryk van JHWH nie. Dit maak nou nie saak hoeveel wonderwerke in die “Naam van Jesus” of selfs J’shua of JHWH gedoen is nie. Hy vra en eis gehoorsaamheid. Wetteloosheid is niks anders om sonder die Tora JHWH te probeer behaag nie.

9.          Gevolgtrekking

Die logiese gevolgtrekking is dat die Sabbat, net soos al die Tien Woorde (10 gebooie) en die hele Tora vandag nog net so geldig is as tevore. Die dag het nooit verskuif nie en het absoluut niks te doen met die feit dat die mens se eerste dag op aarde kwansuis die sewende dag was nie.

In Mal’agi 3 lees ons die volgende:

“Want Ek, JHWH, sal nie verander nie,…”  - (Mal 3:6)

Alhoewel die vers aangaan en die kinders van Ja’akob (dit sluit ons in) belowe dat hulle nooit sal vergaan nie (dit is nou in totaliteit), is die beginsel dat JHWH nie verander nie wat ons hier wil hê. In sy brief skryf J’shua se halfbroer hier op aarde, Ja’akob (Jakobus) ook die volgende:

…van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.  – (Ja’ak 1:17)

Daar is dus géén manier waarop ons die Sabbat vanaf die sewende dag na die eerste dag kan verskuif nie. Ons moet ook gaan kyk wat die skrywer (baie moontlik Shaúl) aan Ibrim (Hebreërs) in hoofstuk 4 skryf:

Daar bly dus ʼn onderhouding van die Sabbat oor vir die volk van Elohim;

want wie in Sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos Elohim van Syne.  – (Ibr 4:9-10)

Die vertaling is uiteraard anders hier. In die 1933/53 vertaling staan daar “Sabbatsrus”. Dit is die Griekse woord sabbatismos wat eenvoudig sabbatonderhouding of sabbat hou, beteken.

10.    En nou ... ?

Die vraag is nou wat gaan jy, wat hierdie studie gedoen en hier lees hier omtrent doen? Gaan jy maar voort ploeter in die duisternis van die Roomse erfenis en die Son aanbid of gaan jy breek met die sonde en uit Babel wegvlug? Gaan jy terugkeer na JHWH?

Onthou hierdie kennis plaas die onus vierkantig op jou skouers. Voorheen het jy dalk nie geweet nie en het in onkunde voort geploeter. Nou het jy die kennis verkry. Wat gaan jy daarmee doen?

Ek bid jou toe die seën van ons Vader JHWH.

 
 


Voetnotas

[i] Torot is die meervoud van Tora. In die 1933/53 Vertaling word Tora met wet vertaal. Die werklike betekenis is onderrig, instruksie, ensomeer. Dit is ‘n term wat begryp moet word en nie werklik vertaal kan word nie.

[ii] Dit is gesien in die lig van ‘n dag wat duur van son-onder tot son-onder. Indien ons, soos sommige aanvoer, die dag neem van son-op tot son-op dan was dit klaarblyklik so teen die middel van die dag, net voor son-onder

[iii] Die woord ‘voltooi’ kan ook met ‘vestig’ of ‘bevestig’ vertaal word.


Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte