|
|
Is die Sabbat deur die Sondag vervang?
Hierdie teksgedeeltes wys vir ons direk dat Elohim voor die verkiesing van Israel en daarna die Sabbatdag as ‘n besondere dag geheilig en gewy het. Jesaja 56:2 sê dan ook dat dit goed gaan met die wat die Sabbatdag hou en sorg dat hy niks verkeerds doen nie. So vind ons dit ook in Eksodus 16:23; Levitikus 19:3; Jesaja 58:13-14; Jeremia 17:21-22; Nehemia 13:15-22 en vele ander gedeeltes. As ons na die Tien Gebooie kyk soos dit in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 opgeteken staan is dit interessant dat daar altyd gesê en geleer is dat die eerste vier handel oor Elohim en ons verhouding met Hom (dus vertikaal) en die laaste ses oor die mens en jou verhouding met jou medemens (dus horisontaal). Die vierde gebod (Sabbatsgebod) is egter nie werklik direk tot Elohim nie maar veel eerder ‘n verbinding tussen Elohim en mens en medemens. Elohim dui duidelik aan hoe ons ook teenoor werknemers moet optree. Die feit dat rus uiters noodsaaklik vir die mens is. Ons sien duidelik hieruit dat die Sabbat vir die mens gemaak is! Hoekom? Om te rus!! Kyk mooi na die deel in Deuteronomium.: “...sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy...” In Markus 2:27 sê J’shua vir die Fariseërs dat “Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie.” Hy gaan aan en sê in vers 27 dat Hy, J’shua, ook Meester oor die Sabbatdag is. Die Sabbat is dus daar tot die mens se voordeel. Om aan hom rus te gee en ‘n geleentheid om sy Elohim te dien. Allermins is die Sabbat daar om vir die mens ‘n wettiese meulsteen om die nek te wees. Dit is 'n seën vir elk en tot lof van JHWH J’shua is vir ons die voorbeeld wat die Sabbat altyd onderhou het.[i] Ons sien dieselfde voorbeeld van Paulus.[ii] J’shua gee ook die opdrag dat ons die wet moet onderhou.[iii] Al die Apostels beklemtoon die onderhoud van die gebooie.[iv] Vervolgens merk ons in Handelinge 20:7 die eerste keer dat gelowiges op die eerste dag van die week (Sondag) bymekaar kom. Ons vind hier beslis geen aanduiding dat dat die Sabbatdag (sewende dag) oftewel die Saterdag met die Sondag vervang word om gemeenskap van die heiliges te beoefen nie, of om Elohim te aanbid nie. Ons lees wel in handelinge dat dit Sha'ul (Paulus) se gewoonte was om op die Sabbatdag na die sinagoge toe te gaan om met die Joodse gelowiges te redeneer en te probeer oortuig. In Handelinge 2:46 sien ons dat die nuwe gelowiges elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom het en dan verder dat hulle van huis na huis gegaan het om die gemeenskaplike maaltyd te hou. Weereens is hier geen aanduiding dat Sondag ewe skielik die belangrikste tyd vir hierdie gelowiges ingeneem het nie. Dit is weliswaar so dat almal van hulle in elk geval nog steeds die Sabbat onderhou het. Hulle was uiteraard Jode. Al wat verander het was die Offer was finaal gebring. Ons is nie meer onder die toesig van die wet nie (lees Gal 3:15-29) soos duidelik in Galasiërs 3:25 geskryf is: “Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.” Hierdie selfde gedagte slaan Paulus in, in meeste van sy briewe. Dit beteken nie dat hy of iemand anders die wet verwerp nie! Nee!! Maar ons is nie daaraan onderworpe nie en die wet moet sy VOLLE betekenis kry. Wat sê ons dan? Net dit: DIE WET WORD ONS LEWENSWYSE uit Liefde en Dankbaarheid. Sha'ul (Paulus) gaan verder in hoofstuk 4 in sy brief aan die Galasiërs dat ons vrygemaak is van ALLE wettiese en godsdienstige reëls. In Galasiërs 4:9-11 lees ons: “maar nou dat julle Elohim ken, of liewer deur Elohim geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” In werklikheid praat hy natuurlik van bygevoegde reëls van die die Fariseërs en andere. In sy brief aan die Romeine skryf Sha'ul in hoofstuk 14:5 “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.” Hy gaan aan deur te sê dat elkeen van ons alles moet doen tot lof van Elohim. Ons het elkeen inderdaad rus nodig. Dit is noodsaaklik vir die menslike liggaam en gees. Ons het ook bepaald nodig om te kom stilstaan voor ons Here en Verlosser om deur Hom gevul en vernuwe te word. Ek verkies om myself elke dag deur Hom te laat vernuwe en of dit op my eie in my stiltetyd saam met Elohim is, of dit saam met my gesin tydens "Boekevat" is en of dit saam met ander medegelowiges is, is almal ewe belangrik. Ek as mens het behoefte aan dit alles. Dit bring my tot stilstand. Daar is nie een plek in die nuwe testament waar die gemeentes aangesê word om die of ‘n Sabbat te vier nie, maar wel om heilig te lewe, om nie te lieg nie, om mekaar lief te hê, om rein in die huwelik te leef, om nie dronk te word nie en so kan ons maar voortgaan. Dit is uiters nodig dat ons besef wat J’shua van ons vra. Ja, dit is beslis gehoorsaamheid! Aan die Tora van Eksodus 20? Beslis! Maar met die breër betekenis wat ons Verlosser, J’shua ons kom leer het. “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh 13:34) Het ons Elohim en Vader Jahweh op enige manier die Sabbat dan verwyder? Nee! Wat is die doel dan van die Sabbat? Buiten om gehoorsaam te wees en liggaamlike rus te kry of om deur ander gelowiges gedra te word, is daar ook die vooruitwysing van die Groot Sabbat wat ons saam met J’shua sal geniet. Moet ons dus die Sabbat vier en onderhou? Ja, baie beslis. Noudat ons besef ons moet die Sabbat hou en Sondag nie werklik dit vervang nie, is die logiese vraag: Waar kom Sondagaanbidding dan vandaan en hoekom word die Sabbat nie onderhou nie? Lees maar die Skrif van Genesis 1:1 tot Openbaring 22:21 en sien self dat daar geen reëling t.o.v. die onderhouding van die eerste dag (Sondag) is nie. Daar is wel die onderhoud van die sewende dag (Sabbat). Daar is natuurlik ander spesiale Sabbatte ook. Ons sal op ‘n geleentheid daarna kyk. Gedurende die tydperk net voor (ongeveer 100 jaar) die koms van ons Messias, J’shua, en vir byna 200 jaar daarna het Sonaanbidding groot veld gewen in die Romeinse Ryk. Meeste van die wêreld se Elohim is as die Son-eloah beskou en die Songodaanbidding het effektief oorgeneem. Met die koms van die Messiaanse (Ware) Geloof het daar ‘n stryd tussen die twee onwikkel. Konstantyn het ‘n goeie manier gevind om die ‘Christene’ aan sy kant te kry. Hy het die ‘Christelike’ geloof as Staatsgodsdiens verklaar en sodoende die tweestryd beëindig. Wat meeste mense egter nie besef nie is dat Konstantyn, self ‘n Sonaanbidder, die twee godsdienste/gelowe saamgesmelt het. Selfs voor Konstantyn begin het was daar meer Christene van heidense oorsprong as van die Jode. Hul heidense agtergrond het al sterker na vore beweeg en daar was verskeie van die Gnostici en Neoplatoniese filosofie wat hul uiterste bes gedoen het om ‘n sterk gevoel van anti-Judaïsme te laat pos vat. Dit het mee gehelp om ‘n verwerping van die Joodse Sabbat. Met die Konsilie van Laodicea 336 nM (sommige bronne dui 364 nM aan) is daar besluit om Sabbatsonderhouding te verskuif na Sondagaanbidding. Daar is ook besluit dat niemand moet Judaïseer deur Sabbatsonderhouding nie. Almal het egter nie dadelik dit begin nie. Slegs Rome en Alexandrië. Twee skrywers – Socrates (439 nM) en Sozomen (440nM) skryf dat hulle opmerk dat oral word die Sabbat nog onderhou behalwe in Rome en Alexandrië, moontlik a.g.v. een of ander tradisie. J’shua is ook meer en meer met die Son vereenselwig. Alles om die Sonaanbidders in te trek. Wanneer hulle dan eers ‘in’ was het dit nog erger geword. J’shua is gesien as Sol Invictus – die onoorwinlike Son. Dieselfde rede vir kersfees.[v] Verder was daar die ooswaartse aanbidding wat nog ‘n sterk deel van Sonaanbidding was. Ons sien ook hoe JHWH Esegiël daaroor inlig (Ese 8:9-16). Sonder om verder te diep te gaan delf in Sonaanbidding[vi] wil ons graag net hier ophou. Feit is dat Sondagonderhouding direkte verering van die Songod (Nimrod, Tammuz, Semiramis, Helios, ens) is. As Kinders van die Almagtige, die Skepper JHWH, verlos deur die bloedoffer van J’shua kan ons, ons nie vereenselwig met sulke praktyke nie. Die predikante en leiers van verskeie gemeentes moet na die woorde van J'shua in Matt 5:19 gaan kyk. Lees jy Exodus 20? Die Sabbatsgebod? Maar onderhou en leer jy die Sondag? J'shua sê jy sal die MINSTE in Sy koninkryk wees! Daar is GEEN regverdiging vir die Sondag nie! Ons moet Jahweh se oproep herhaal: Kom uit Babilon! Notas[i] Sien Luk 4:16; 1 Joh 2:6; Joh 10:27; 21:19; 21:22; Opb 14:4 [ii] Sien Hand 17:2; 13:14; 13:42-44;18:4 [iii] Sien Matt 19:17; Luk 10:28; Joh 12:50; Opb 22:14 [iv] 1 Kor 7:19; 1 Tim 6:13-14; 1 Joh 5:2,3; 2 Joh :4-6; Rom 2:26,27; 3:31; Heb 8:10; 10:16. [vi] Lees gerus ‘The Two Babylons’ van Alexander Hislop en ‘Die Finale Reformasie’ van CJ Koster (ISBN 0 620 09643 8) nou onder die nuwe titel: Gaan uit haar uit, My Volk. Lees ook die belydenisse van verskillende groepe en die Sabbat Studie. Gaan ook gerus na die Vertalingsprojek van Die Skrifte en laai die Boeke af wat reeds beskikbaar is! |
|