|
|
Wat is die Grootste probleem met vandag se Prediking?
Liefde!
Skriflesing vooraf:1 Johanan 1 – 5; Jaäkoḇ 2:14 – 26; 1 Timotheos 6:3 – 21; Kolossense 3:1 – 18; Johanan 13:31 – 14:15; Mattitjahu 7:12 – 27; Shemot (Exodus) 20:2 – 17; Mattitjahu 22:36 – 40; Markos 7:28 – 33; Lukas 6:49 – 49; Lukas 10:25 – 37.
Liefde word voor alles gestel en dan nog met die vermetelheid om dit aan die woorde van ons Messias, Jahushua, te hang. Omdat Hy volgens die Blye Boodskap volgens Johanan gesê het ons moet mekaar liefhê. Hierdie liefde is egter ‘n gekwalifiseerde liefde en beteken nie blindelings die liefde van hierdie wêreld nie. Liefde vir mekaar en jou eggenoot volgens Jahushua is nie die seksuele wellus en begeerte na mekaar waarna Jahushua verwys nie. Nog minder is dit ‘n romantiese ete by kerslig op Valentynsdag of enige ander dag. Die liefde waarna Jahushua verwys eerstens tussen medegelowiges is om mekaar onder enige en alle omstandighede te kan en te wil help en bystaan. Dit beteken nie net om geld te gee nie. Dit beteken nie net om kos te gee nie. Dit beteken ek moet myself binne die ander persoon se situasie kan plaas en saam kan voel. Saam lag, saam huil, saam bekommerd wees en dus ook saam bid. Dan moet ek binne my vermoeë hulp op materiële gebied verleen. Verder moet ons dan ook hierdie liefde van empatie en meegevoel uitdra na ons naaste, dus alle ander mense wat oor ons pad kom. Jahushua dui egter in Sy gelykenis (Luk 10:25-37) aan dat die Samaritaan – wat geen volksgenoot was nie – die naaste van die slagoffer was. Die rede: omdat hy gehelp het. Verder sê Jahushua ook dat wanneer ons dit vir die geringste doen, doen ons dit vir Hom. Dus behoort elkeen ons naaste te wees. Onthou Jahushua praat hier met mense wat veronderstel is om JHWH te ken! Waar kom hierdie liefde vandaan? Dit is nie so eenvoudig soos hedendaagse predikers dit wil stel nie. Die liefde wat filantropie verkondig is tog so na aan die liefde wat vandag se kerke en ander Christen organisasies voorstaan. In der waarheid lyk dit nogal baie dieselfde. Ons moet erken dat uit ‘n menselike oog gesien is dit byna identies. Wat is die verskil? Net dit: ‘n gelowige se liefde spruit nie uit homself nie. Dit is nie omdat hy so maklik vir almal jammer voel en almal wil help nie. Dit is waar die filantrope se liefde vandaan kom en terloops ook die Groenvrede (Green Peace) en soortgelyke organisasies se liefde vir die natuur. Die ware gelowige se liefde is deur Jahushua in JHWH gegrond want JHWH is Liefde (1 Joh 4:8). Dit is nie moontlik om hierdie liefde te ontwikkel op eie stoom nie. Hierdie liefde word in ons gebore deur die krag van die Gees wanneer Hy ons herskep in Jahushua. Die probleem wat ons met hedendaagse prediking ervaar is dat so ‘n afgewaterde weergawe van hierdie liefde wat van JHWH af kom gepredik word terwyl meer aandag aan die filantropiese liefde geskenk word. Ook word die ware wyse van hoe om hierdie liefde te bekom NOOIT gepredik nie! Nou hoe kan ons dan hierdie liefde bekom? Die antwoord is eenvoudig: Bekering! Ook dit word egter selde indien ooit verkondig. Hoeveel mense weet werklik wat beteken bekering? Die meerderheid in kerke het al die woord gehoor en dink dit is daardie vinnige gebed waar jy ‘Jesus’ gevra het om in jou hart te kom. Maar is dit werklik bekering? Die Skrif stel vir ons so duidelik wat bekering is. Dit is ‘n totale ommekeer van ons verkeerde weë. Dus ophou met die wegbreek van JHWH en terugkeer na Hom. Terugkeer na Sy opdragte. Terugkeer na die WIL van Vader JHWH. Die aanvaarding van Jahushua is deel daarvan, want hy het die rekening van skuld, die sondeskuld, betaal. Ons het nie nodig om nou meer enige iets anders te doen nie. Ons hoef nie die Tora (wet) te probeer hou om gered of verlos te word nie. Ons doen dit nou omdat ons lewens nuut is. Omdat JHWH Sy Tora op ons harte kom skryf wanneer Hy ons nuut maak (Jer 31:31-34). Ons doen dit omdat Sy liefde wat Hy in ons geplaas het, ons daartoe dring! Is dit dan nie wat verkondig word nie? Dit is sekerlik wat deur baie gevra word. Maar nee, dit is nie wat van menige preekstoel, kansel, radiostasie, ensovoorts kom nie. Dit is ook nie wat op uitreike in die vreemde gedoen word nie. Wat wel plaasvind is dat mense vertel word hulle is sondige mense en hulle moet hul harte of soms hul lewens vir ‘Jesus’ gee. Dit is al! Maar wat is sonde? Wat sê die skrif van sonde? Hoe moet ons sonde definieër vir iemand wat in ‘n ander kultuur (nie noodwendig Afrika-kulture nie) groot word? Sonde, volgens sommige predikers, is om jou doel te mis. Streng gesproke is dit ook korrek volgens die betekenis van die Hebreeuse woord vir sonde. Maar nou het ons ‘n nuwe probleem. Wat is my doel en jou doel en die buurman se doel, ens? Dit kan moeilik of maklik wees. Miskien is jy ‘n mediese dokter en glo jy jou doel is om mense te help om gesond te word of moontlik ‘n sanger en jou doel is om mense genot te verskaf of selfs gospel te sing. Of nog beter ‘n prediker of pastoor en jou doel is om mense te help red vir die ‘Koninkryk van God’. Pragtig! Dit moet sekerlik so wees. Ons het EEN doel waarvoor ons geskep is en dit is om lof en aansien aan ons Skepper te bring. Al die ander is bysake. Toegegee is dit met vlakke van belangrikheid en die verkondiging van die Goeie Boodskap is uiteraard baie hoog op daardie lys. Maar hoe bring ons lof en aansien aan JHWH? Is dit om elke Sondag te staan en saam met ander lofprysing en lofsange te sing? Of is dit dalk om ander so lief te hê dat jy alles opoffer en tussen die HIV mense gaan werk? Maar dit bring ons vierkantig terug na die begin: is dit die liefde waarvan Jahushua praat? As ek JHWH nie ken nie kan ek Hom nie liefhê nie en as ek Hom nie liefhet nie kan ek nie met Sy liefde iemand anders liefhê nie, al is ek hoe sag en liefdevol. Dus, hoe bring ons lof aan JHWH? Deur Sy wil te doen. So eenvoudig! Ons kan egter nie Sy wil doen nie, nie uit ons eie krag nie! Daarom mis ons ons doel en daarom is ons skuldig aan SONDE teenoor JHWH en ook aan mekaar. In die Skrif vind ons keer op keer dat sonde, ongeregtigheid en wetteloosheid sinoniem gebruik word. Ons kan dus dit as volg stel: SONDE <=> ONGEREGTIGHEID <=> WETTELOOSHEID (TORALOOSHEID) Daar is natuurlik diegene wat die mening huldig dat wanneer hulle volgens die samevatting van die Tora leef, dus lief vir JHWH en die naaste, vervul hulle die Wil van JHWH. Weereens in beginsel is dit naby aan reg maar slegs wanneer die liefde ter sprake van JHWH self is. Dan sou ons egter sonder twyfel die Tora in totaliteit wil onderhou. Hoe is dit moontlik om die liefde van JHWH vir JHWH te hê en terselfde tyd Sy wil, Sy Tora te verbreek? Dit kan nie! Want JHWH kan nie teen Homself draai nie. Hy het onder andere vir ons die Tien Woorde (beter bekend as Tien Gebooie) gegee. Indien ons net na die eerste vier kyk dan kom ons sogenaamde ‘kerke’ en gelowiges nie naby nie. Vra my ek weet. EK het self daar gesit. Die eerste Woord (Exo 20:3/Deut 5:7) gaan oor idole of ander magtiges. Aanbid jy nie die son nie? Hoekom vier jy dan sy dag elke sondag in die kerk? Hoekom vier jy sy verjaardag elke kersfees? Wat van jou kinders? Is hulle nie dalk meer werd as jou Skepper nie? Of moontlik jou motor, sport, ‘n televisie program, ‘n sportster, popster, rolprentster of wat ookal? Is JHWH die eerste en die laaste in jou lewe? Die begin en die einde? Die ‘A’ en die ‘Z’, die Alfa en Omega of in Hebreeus die Alef en Taw? Alles behoort ondergeskik te wees. JHWH en Jahushua is EEN (Joh 10:30)! Dus sal ons nie hare kloof oor JHWH en Jahushua nie. Die tweede Woord (Exo 20:4-6/Deut 5:8-10; Jes 42:8) is natuurlik oor beeldediens. Die eerste wat iemand hier sal sê is dit is net die Katolieke wat beeldediens het. Die Katolieke sal sê dit is nie beeldediens nie en dit is in elkgeval nie een van die Tien Woorde nie want hulle het dit uitgehaal. Nou-ja die waarheid is elke christelike kerk tot op hede aanbid die kruis! Baie sal dit ontken en sê dit is net ‘n simbool. Waarvan? Van Jahushua? Van Sy dood? Nie een nie! Dit is slegs ‘n simbool van die son. Van die vroegste eeue af word die kruis aanbid. Is Jahushua dan nie gekruisig nie? Het hy nie op Golgota aan ‘n kruishout gehang nie? Praat Paulus dan nie van die kruis nie? Nee! Hoe oortuigend het die Satan almal nie verblind nie! Die woord wat in die Grieks gebruik word beteken eenvoudig paal of martelpaal en is normaalweg ‘n eenvoudige regop paal. Daar is sekerlik ‘n moontlikheid dat daar ‘n dwarsbalk kon wees, maar dit is nie ter sprake nie. Die feit is dat die woord kruis en kruisig nie in die Griekse manuskripte voorkom nie. Dit is deur die Roomse Kerk in Latyn ingevoer met die woord ‘CRUX’. Op dieselfde wyse word baie ander simboliek gebruik wat vanaf die Roomse Kerk ingevoer of oorgeneem is. Of eerder wat nooit weggelaat is met die oorspronklike hervorming nie. Die derde Woord (Exo 20:7/Deut 5:11) handel oor die NAAM bo alle name, die Naam van JHWH. Die Naam wat ons nie mag misbruik nie. Die Naam wat ons nie in onbruik mag laat nie. Die Naam wat ons nie mag vervals nie! Daar is sommige van die slim professore wat vertel dat hulle wel weet die Naam van ons Vader is JHWH (uitgespreek Jahuweh met die ‘w’ baie sag) maar dat HERE die Afrikaanse vertaling daarvan is. Van wanneer word name vertaal? ‘n Afrikaanse Piet word nie Pete wanneer hy in Engeland is nie! En Josef word nie Guisepe in Italië nie! Sy Naam kan en mag nie verander word nie. Dieselfde woord wat gebruik word vir vals in die negende Woord, word in die derde Woord gebruik en ons vertaal dit met ‘ydellik’ of ‘misbruik’. Kan ons ons Vader se Naam so blatant vervals? Allermins! Dit is deel van Sy aansien en agting en Hy deel dit met niemand nie (Jes 42:8; 47:4; 48:11; 52:6; Jer 31:35; 32:18; 33:2; 51:19; 16:19-21). JHWH is Sy Naam vie ewig (Exo 3:15; Hos 12:6; Ps 135:13). In die 1933/53 vertaling is JHWH met ‘HERE’ vertaal en daarom kry ons baie ‘Here HERE’ wat Adonai JHWH of Meester JHWH is. In die 1983 vertaling is dit net ‘Here’ ongeag of daar Adonai of JHWH of Adonai JHWH staan. Die vierde Woord (Exo 5:8-11/Deut 5:12-15) gaan seker oor een van die mees omstrede kwessies, die Shabbat! Ons wil so vinning die woorde van Sha’ul (Paulus) inbring en sê maar die Shabbat is nie nodig om gevier te word nie. In der waarheid het abosoluut niks verander nie. Die Shabbat het NIE na die eerste dag van die week geskuif nie! Ons Messias, Jahushua het beslis nie vroeg die oggend van die eerste dag opgestaan nie. Hy het veel eerder opgestaan aan die einde van Shabbat, teen sononder of die begin van die eerste dag teen vroegaand net na sononder. Dit is ook die een Woord wat nie ‘nuut’ was nie. Dit is reeds in Genesis (Bereshit) 2 vir ons duidelik dat hierdie dag vir JHWH ‘n baie belangrike dag is. Reeds van die begin van die skepping word die sewende dag afgesonder en geseën. Die belaglike idee dat die mens op die sesde dag gemaak is en die sewendedag, die Shabbat, dus die mens se eerste dag is en daar moet ons die eerste dag (‘Sondag’) vier het geen Skriftuurlike grondslag nie en staan op eie insig en interpretasie. Deur die bevestiging van die Shabbat aan Jisra’el in die woestyn is dit duidelik dat dit steeds dieselfde waarde vir JHWH het en beslis die sewende dag is! Menige sondagsaanbidders probeer ook die woorde van Handelinge 20 vers 7 gebruik om aan te dui dat die Apostels (Gestuurdes) die eerste dag gebruik het om die sewende dag te vervang. Die teenoorgestelde is waar. Want op die Shabbat mag geld nie hanteer word nie en volgens die genoemde vers het die Apostels bymekaar gekom en brood gebreek en geld ingesamel vir die armes. Onthou net dat JHWH nooit verander nie (Mal 3:6)! Wanneer ons na hierdie vier aspekte in ons lewens kyk dan skiet ons ver tekort en ontbreek dit ons aan die afsondering van JHWH. Dit is moontlik dat ons tot ‘n mindere of meerdere mate die ander ses Woorde wat op die menslike verhoudingsvlak werk dit kan nakom, maar beslis met menslike oogmerke en nie uit die krag van Jahushua nie. Wanneer ons dus tot bekering kom moet ons breek met ons ou lewensvorm. Ons moet die beheer van ons lewens totaal aan die Gees van Jahushua oorgee en Hom toelaat om Sy Tora (onderwysing) op ons harte te skryf. Dan kan ons Hom werklik dien en lof en aansien bring. Dan sal ons nie ons doel mis nie. Dan sal ons nie in sonde leef nie. Dan sal die Liefde wat in Jahushua is, ook in ons wees. Dink iemand ek is teen liefde gekant? Wel, ek is nie, maar ek is gekant teen liefde wat nie van Jahushua af kom nie. Want dit is nie ware liefde nie, net filantropie of wellus. Onthou wat sê Ja’akov (Jakobus) : ‘Wys my jou geloof uit jou werke en ek sal jou uit my werke my geloof wys.’ (Jak 2:18). Op dieselfde wyse is dit ook duidelik dat ons nie kan sê ek het JHWH en my naaste lief en daarom onderhou ek die Tora nie. Volg eerder die Tora na en dit sal bewys dat jy JHWH en jou naaste liefhet. In Johanan 14:23 lees ons dat ons Sy woord sal bewaar indien ons Hom liefhet. Kom ons draai ons weg van hierdie wêreld se begeerlikhede en gee onsself volkome oor aan Jahushua. Kom ons bely ons sonde voor Jahushua en breek daarmee vir ewig. Kom ons luister na wat JHWH sê in Jeshajahu 1 vers 18 en ons maak die saak nou uit. Môre mag dalk net te laat wees. Wanneer ons hierdie saak met JHWH reggemaak het sal Sy Liefde van ons besit neem. Dan het ons nie nodig om daarvan te praat nie want ons sal nie anders kan nie. Mag die Gees van ons Vader ook vir jou oortuig om Hom eerste te stel en niemand en niks anders nie. Omein! |
|