Tuis-Home
Op-Up

 

Dek jy die tafel vir die Geluksgodin?

Een oggend terwyl ek besig was met ‘n ernstige studie van die Woord het JHWH my duidelik aangespreek om hierdie onderwerp aan te roer. Nou moet ek eerlik sê dat dit nie werklik iets is wat ek goed ken nie. Ek is van kleins af geleer: ‘Kinders van God dobbel nie!’ en so het ek dit aanvaar. Ek is geroep deur JHWH om Sy volk uit Babilon te roep. EK weet Babilon is een GROOT gruwel voor ons Vader, maar ek het nie regtig die verband gesien nie. Ek het egter beloof om gehoorsaam te wees.

“Maar julle wat JHWH verlaat, wat my afgesonderde berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot-- Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gepraat maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in My oë en verkies het wat My nie behaag nie.” Jesaja 65:11,12

Kom ons vergeet ‘n oomblik van Amerika en Europa. Kom ons dink vir ‘n oomblik die wêreld bestaan uit suidelike Afrika. Wat het nie in die laaste paar dekades met ons gebeur nie. Vergeet van politiek. Dit is nie ter sake nie. Ons praat van die maatskappy – die samelewing. Die morele standaarde wat gehandhaaf word of sal ons eerder sê die immorele standaarde! Hoeveel dobbelhuise en kasino’s het nie oral oopgemaak nie? Hoeveel geldspeletjies was daar nie gewees nie? Alles kwansuis om die minder bevoorregtes te help. Eerstens ‘heilig’ die doel nie die middel nie. Tweedens het die wat die geld moes kry baie min daarvan gesien! Maar dit was darem ‘n troos vir diegene wat week vir week na ‘n aanbiddingsdiens gegaan het en darem ‘vroom’ daar wou sit. Is dit nie die rede hoekom ons land in die toestand is wat hy nou is nie?

Die kwessie gaan oor gehoorsaamheid. Eerstens kry ons duidelik die opdrag om te werk vir ons onderhoud (Gen 3:17-19). Maar nee, ons droom daarvan om oornag ryk te word deur geld te vat en dit op ‘n gelukspel te plaas. Dit nogal met ‘n potensiële kans van 1 tot ‘n paar duisend of selfs ‘n paar miljoen. Dit is nie berekende kanse soos ‘n mens soms in goeie besigheidspraktyk sal maak nie. Dit is uit en uit geluk. Dit maak nou nie saak of jy ‘n Eenarm gaan trek, by die ‘Black Jack’ –tafel sit, roelet speel, die Lotto-kaartjie koop, perde speel, op ander sportuitslae wed of selfs die skool se loterykaartjie koop nie. Dit is ALLES dieselfde. O ja, sommige gemeentes hou ook deesdae daarvan om kaartjies te verkoop vir iets groot wat geskenk is. Dan probeer hulle so ewe ‘n suiker daarom sit om dit te regverdig. Jy moet ‘raai’ hoeveel gare is gebruik of hoe swaar dit is of so iets.

Tweedens word ons uitdruklik beveel om GEEN ander gode te dien nie. Wel, as jy deelneem, dan dien jy! Dit is baie eenvoudig. Dit is tog nie moontlik om die nagmaal te gebruik en sê dat jy nie J’shua se dood gedenk nie. Doen jy dit wel sonder om Hom te ken, eet en drink jy ‘n oordeel oor jouself. Dieselfde geld wanneer jy dobbel. Jy kan onmoontlik deelneem om iets te wen en nie dobbel nie. Jy het dan beslis ‘n sterk wens in jou binneste dat JY tog net die wenner kan wees. Dan hoef jy nie nie so hard te werk nie. JHWH sê: “Hy wat aan die gode offer, behalwe aan JHWH alleen, moet met die banvloek getref word.” (Exo 22:20). Die banvloek beteken hy moet gedood word. Ons beskawing het egter te humanisties geword vir die doodstraf.

Die feit is, hierdie dinge vorm deel van die verleidings van die hoer van Babilon. Ons moet uit Babilon en ons moet ons Skepper en Verlosser dien soos Hy beveel en nie soos dit vir ons gerieflik is nie. Ons kom terug by die deel van vroeër. Dit gaan alles oor gehoorsaamheid.

22 Daarop sê Shemu’ĕl: “Het JHWH behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van JHWH? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. 23 “Want opstandigheid is ʼn sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is boosheid en idolatrie. Omdat jy die woord van JHWH verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”  1 Samuel 15:22,23

 Kom ons vlug uit Babilon en ons raak nie gewoond aan die maniere wat die heidene het nie.

“Neem jou in ag vir Hom (JHWH) en luister na Sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want My Naam is in Hom. Maar indien jy terdeë na Sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want My Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig. Jy mag jou voor hulle elohim[idole of magtiges] nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan. En julle moet JHWH julle Elohim dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder. Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak.” Exodus 23:21-26

Mag JHWH jou in Sy weë lei.


Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte