Tuis-Home
Op-Up

 

Afgesonderd of Heilig?

 

1.          Inleiding

Wanneer ons vandag aan die term ‘heilig’ dink dan is die eerste gedagte wat by ons opkom iets of iemand wat besonder toegewyd is aan Elohim (bekend as God by meeste mense) en dus baie vroom en van onbesproke karakter. Kinders verwys baie keer na iemand as ‘heilig’ wanneer hulle nie wil meedoen aan wat as kattekwaad beskryf word nie.

Vir die meeste mense beteken ‘heilig’ iets wat te doen het met die ‘Kerk’ of met ‘God’. In sommige gevalle is daar wel diegene wat so bietjie meer geleer het en dink dat dit ‘afsondering, afgesonder of afgesonderd vir God’ beteken. In werklikheid beteken dit slegs afsondering. En dit kan vir goed of sleg wees. Kom ons bekyk die woord ‘heilig’ so bietjie van nader.

2.          Oorsprong

Die woord ‘heilig’ word uiteraard op verskillende maniere gebruik en kan as selfstandige naamwoord, byvoeglike naamwoord of werkwoord gebruik word. Die Hebreeuse woord is kodesh/kadosh en die Griekse woord hagios. Albei word met een of ander vorm van heilig vertaal.

Die betekenis van kodesh/kadosh word totaal deur die Woord weerspreek. In Jeshajahu (Jesaja) lees ons die volgende:

“Die wat hulself afsonder [heilig] en hulself in die tuine reinig, terwyl hulle die een in die middel nadoen, wat varkvleis eet en die gruwel en die muis, sal almal saam vernietig word,” sê יהוה [JHWH].” (Jes 66:17)

In 1 Kěfa (Petrus) 3 lees ons die volgende:

Maar sonder [heilig] יהוה [JHWH] Elohim af in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die verwagting wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; (1 Kefa 3:15)

Hier vind ons dat mense hulle afsonder of ‘heilig’ om ‘afgode’ te dien en verfoeisels te eet. Dit het in nie een opsig iets met JHWH te doen nie. In Kefa word dieselfde woord vir JHWH gebruik. Om dit nog te vererger sien ons dat die Hebreeuse woord kedeshah die Afrikaanse hoer is! Sy/hy word afgesonder vir spesifieke gebruik. Beide kodesh en kedeshah word van die werkwoord kadash afgelei. In die New Unger’s Bible Dictionary word die betekenis van beide kodesh en hagios aangegee as separation en/of set-apart wat afsondering in Afrikaans is. Dit is ook waar sommige vêr regse groeperinge hulle wanindruk kry, dat dit dieselfde ‘apartheid’ is wat die Nasionale party voorgehou het, en hulle verkondig dit steeds.

Die werklike oorsprong van die woorde heilig, holy, halo en andere kom direk vanaf die sonaanbidding, waar die woord vir byna alle tale van die geëerde son afgelei is. Ook is een van die Indiese idole se naam HOLI wat ook ʼn lentefees is ter ere van die baba Krishna.

Volgens die Strong Konkordansie (Grieks no. 1506) beteken die woord heile direk die ‘son se strale’. Dan is daar ook nog die volgende woorde: halo – die kring van die son of ‘heilige ring’, nimbus – die groot son agter die koppe van sogenaamde ‘heiliges’, ens. Verder word aangedui dat die woord holy van die Saksiese woord halig afkomstig is. Almal met dieselfde oorsprong: SONAANBIDDING!

Dit is dus duidelik uit die bewyse hierbo dat daar onder geen omstandighede kan verwys word na “afgesonderd vir ‘God’” wanneer ons na heilig verwys nie. Die woorde kodesh en hagios kan beteken afgesonderd vir letterlik enige iets: JHWH, hoerery, satan of enige iets anders.

3.          Wat Nou?

Met die oorsprong en die wortels van hierdie woorde bekend is die vraag: Hoe kan die vertalers dan so ʼn blatante fout gemaak het? Die antwoord is dat die vader van die leuens, Satan self, baie duidelik sorg dat hy op indirekte wyse ‘vereer’ en aanbid word. Die woord ‘heilig’ is so gebruik dat almal daaraan gewoond geraak het en sodoende is die gebruik daarvan byna verpligtend gemaak.

Kan ons nou ʼn woord wat met sy oorsprong en oorspronklike betekenis uit sonaanbidding is gebruik in ons aanbidding tot die EEN Elohim, JHWH, wat alles gemaak het, ook die son? In Jeḥeskel (Esegiël) 8 kry ons ʼn beskrywing van hierdie groot gruwel voor JHWH:

9 En Hy het vir my gesê: “Gaan in, en sien die bose gruwels wat hulle hier doen.”

10 En Ek het ingegaan en gekyk en elke vorm van kruipende goed en gruwelike diere, en al die idole van die huis van Jisra’ěl gesien wat reg rondom op die muur uitgekerf was.

11 En sewentig mans uit die oudstes van die huis van Jisra’ěl het voor dit gestaan, en Jaäsanjahu, die seun van Shafan, tussen hulle. En elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van wierook het opgegaan.

12 En Hy het vir my gesê: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Jisra’ěl in die donker doen, elkeen in die kamers van sy beelde? Want hulle sê: ‘יהוה [JHWH] sien ons nie. יהוה [JHWH] het die land verlaat.’”

13 En Hy het vir my gesê: “Draai weer om, jy sal nog groter gruwels sien wat hulle doen.”

14 En Hy het my na die ingang van die noordelike poort van die Huis van יהוה [JHWH] gebring, en kyk, daar het die vrouens gesit wat oor Tammuz huil.

15 En Hy het vir my gesê: “Het jy dit gesien, mensekind? Draai weer om, jy sal nog groter gruwels as hierdie, sien.”

16  En Hy het my in die binnehof van die Huis van יהוה [JHWH] gebring. En kyk, by die ingang van die Tempel van יהוה [JHWH], tussen die voorportaal en die altaar, was ongeveer vyf en twintig mans, met hulle rûe na die Tempel van יהוה [JHWH] en hulle gesigte na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste.  (die vetdruk deur skrywer)

Lees gerus die hele hoofstuk 8 en kyk wat die uiteinde van die saak is. Ons sien egter dat die sonaanbidding die gruwelikste is aangesien dit laaste genoem word. Elke keer sê JHWH, ‘Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie sien’. Hoe kan ons dan voortgaan om Sy Naam en Sy Gees daarmee te besoedel wanneer ons weet wat reg is? Kan ons die Gees van JHWH vereenselwig met sonaanbidding?

4.          Die Gees van Afsondering

Die Gees van Afsondering is die Gees van JHWH, maar Hy het beslis geen nimbus of halo bokant Hom om aan te dui dat Hy ‘heilig’ is nie. Die terms Ruach Hakodesh (Hebreeus) wat met ‘Heilige’ Gees vertaal, kom slegs ʼn paar keer in die Ou Verbondsgeskrifte (Ou Testament) voor maar Pneumati Hagioo (Grieks) baie meer in die Messiaanse (Nuwe Testament) geskrifte.

Die rede hier is ooglopend. Gedurende die voor-Messiaanse tydperk is die Gees van JHWH slegs op sekere mense ‘uitgestort’ en het die Gees onttrek (bv Koning Sha’ul [Saul]) wanneer die persoon dit nie meer waardig was nie. Gedurende die Messiaanse tydperk egter word die Gees op elkeen wat glo ‘gestort’ en staan dit ook bekend as doping met die Gees. Die doel hier van die Gees is om ons af te sonder vir JHWH en ons sien dit duidelik in Galasiërs 5 waar Sha’ul (Paulus) duidelik aantoon wat die vrugte van die Gees in ons lewens is.

Daar word egter op verskye ander maniere na die Gees in die Skrif verwys soos die Gees van Elohim (Ber [Gen] 1:2), die Gees van JHWH (1 Shem [Sam]10:6), die Gees van die Waarheid (Joh 16:13). Waarom dan sal ons Hom in verband bring met sonaanbidding, want dit is nie net die Gees nie maar JHWH self.

In Wajikra (Levitikus) 11 en 1 Kěfa (Petrus) 1 lees ons die volgende:

44 ‘Want Ek is יהוה [JHWH] julle Elohim; toon dan dat julle afgesonder [heilig] is en wees afgesonder [heilig], want Ek is afgesonder [heilig]; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie. 45 Want Ek is יהוה [JHWH] wat julle uit die land van Mitsrajim [Egipte] laat optrek het om julle Elohim te wees. So moet julle dan afgesonderd [heilig] wees, omdat Ek afgesonderd [heilig] is. (Wajikra)

15 Maar soos Hy wat julle geroep het, afgesonder [heilig] is, moet julle ook in jul hele lewenswandel afgesonder [heilig] word, 16 omdat daar geskryf is: “Wees afgesonderd [heilig], want Ek is afgesonderd [heilig].” (Kěfa)

Ons moet ons vir HOM, ons Verlosser en Messias, ons Koning en Meester afsonder en beslis nie met ander dinge soos o.a. sonaanbidding besoedel nie.

5.          Slot

Kan ons op enige wyse regverdiging vind vir foute in dit wat ons van ons vaders geleer het? Soos die Skrif sê:

יהוה [JHWH], my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: “Net leuens het ons vaders geërf, nietige idole, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.” (Jer 16:19)

Ons moet elke vreemde lering, elke vreemde woord, ja elke vorm van ‘afgodsdiens’ verwyder uit ons midde en ons geheel en al aan JHWH toewy en vir Hom afsonder!

Mag die Gees van Waarheid ook vir jou hierin lei.

6.          Bronne

1.            Die SkrifteLetterlike Vertaling nog nie voltooi nie

2.            Die Bybel (1953)Bybelgenootskap van SA

3.            The International Standard Bible Encyclopaedia

4.            Vine’s Expository Dictionary

5.            Gaan uit haar uit, My volk – Dr CJ Koster


 

‘n Artikel t.o.v. titels soos ‘God’, ‘Here’, ens sal binnekort ook beskikbaar wees.

 



Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte