|
|
Nuwe Jaar
1. Inleiding“Gelukkige Nuwe Jaar!” “Geseënde Nuwe Jaar!” “Voorspoedige Nuwe Jaar!” Hierdie is maar ʼn paar van die uitroepe en groete wat ʼn mens rondom die eerste dag van Januarie hoor. Die naam van hierdie eerste maand van die Romeinse of Gregoriaanse kalender en in werklikheid Roomse Kalender, is skuins gedruk want dit kom van die idool (afgod) Janus af. JHWH sê in Shemot (Exodus) 23 die volgende:
Let veral op die vetgedrukte deel in vers 13. Derhalwe wil ons nie graag hierdie name van die maande gebruik nie, want dit is ’n opdrag van JHWH en Sy opdragte, bevele en Sy hele Tora het nog nooit verander nie. Die vraag wat werklik van belang is hier, is of die eerste dag van die eerste maand van die Gregoriaanse kalender as nuwe jaar gevier moet word. Hier is meer inligting aangaande die verskillende kalenders. 2. OorsprongSoos soveel ander dinge in ons alledaagse gebruike en tradisies in die westerse wêreld, het Nuwe Jaar ook sy oorsprong van êrens gekry. Die vraag is, van waar? Van die begin van tyd het die mens ’n Nuwe Jaar gevier op een of ander wyse. Uiteraard was die begin van die nuwe jaar verbonde aan die kalender wat gebruik is. Nuwe Jaar as sulks is nie nuut nie. Een van die vroegste Nuwe Jaar vieringe dateer terug tot die vroeë Baḇelse tydperk. Die ou Babelse Nuwe Jaar is gevier tydens die begin van lente met die eerste sekel van die nuwe maan na die lente dag-nag ewening. Hierdie Babiloniese Nuwe Jaar het elf dae lank geduur. 3. Nuwe Jaar in Antieke Nabye OosteVolgens alle aanduidinge het die meeste lande en beskawings in die Nabye Ooste Nuwe Jaar feeste gehad. a. Baḇel (Babilon)Soos reeds genoem het Baḇel vanaf die eerste nuwe maan na die lente dag-nag ewening vir elf dae lank Nuwe Jaar gevier. By hierdie fees het hulle die skeppingsepos van Marduk (son-idool van Baḇel – Meródag volgens Jir 50:2) voorgedra aan die beeld van Marduk. Hulle het ook hul tempel gereinig en die hernuwing van die koning se gesag. ’n Ritueel van vernedering van die koning, was deel hiervan. Die oorspronklike oorwinning van Marduk oor Tiamat (monster van chaos) is ook in ’n rituele drama uitgevoer. Met die terugkeer na die stad het daar ’n rituele huwelik vir Marduk in die tempel van Esagila plaasgevind. Daar is ’n moontlikheid dat die koning die rol van die magtige (eloah/god) vertolk het, maar daar bestaan nie sekerheid nie. Die moontlikheid dat die dood en opstanding van Marduk herdenk is, bestaan ook, maar weereens sonder bevestiging. b. Ashshur (Assirië)Die feesvieringe in Ashshur was tot ’n groter mate dieselfde as in Babel. Dit het egter twintig dae geduur. In Ashshur is daar geen aanduiding van die rituele vernedering van die koning nie. ’n Gewyde banket het ook deel van die fees uitgemaak. c. Mitsrajim (Egipte)Nuwe Jaar vieringe is werklik hier bekend van ongeveer 200 vM vanaf die tempel van Edfu. Wat beslis gebeur het is dat die beeld van Horus (Grieks/Latynse spelvorm) uit sy tempel gebring is om blootstelling aan die sonstrale te kry: dus ’n hereniging van die wese (siel) van die idool met sy liggaam. d. KanaänIn Kanaän is baie waarde aan die herfs oesfeeste geheg, maar daar is nie voldoende bewys dat dit as Nuwe Jaarsfeeste gehou is nie. Daar word vertel dat stories vertel is van Baäl se tempel wat gebou is, sy koningskap, sy opstanding en sy oorwinning oor Mot (die magtige/idool van die dood). Daar is ’n moontlikheid dat dit deel was van die Nuwe Jaar se feeste maar voldoende bewyse is nie beskikbaar nie. e. Jisra’elAanduidinge vanuit Jisra’el is dat die regerings nuwe jaar en die landbou nuwe jaar veskillend was. Dit wil voorkom of regeringsjare met Aḇiḇ (Aviv of ook Nisan – lente) begin het en dat die landboujaar met die sewende maand (Tishri – herfs) begin het. Verskeie navorsers voer aan dat 1 Tishri (sewende maand) met al die feeste daaraan verbonde en ook die versoendag op die tiende dag die Nuwe Jaar vir Jisra’el was voor die ballingskap. Daar is egter géén Skriftuurlike of buite-Skriftuurlike bevestiging vir so ’n standpunt nie. Dit was slegs die maand wat die inleiding was tot die Groot Versoendag (Jom Kippur – Waj/Lev 16:29; 23:27; Bed/Num 29:7) en die Huttefees (Sukkot – Waj/Lev 23:34; Bed/Num 29:12). Die eerste dag van die sewende maand word ook as ’n afgesonderde dag met jubelling gevier, meer spesifiek as die ander Nuwe Mane (Waj/Lev 23:24; Bed/Num 29:1). Daar is dus géén aanduidings van enige vieringe van of vir die Nuwe Jaar in Jisra’el voor die ballingskap nie. 4. RomeIn Rome was daar oorspronklik (ongeveer 800 vM) net tien maande. Hierdie maande het by Maart begin en tot Desember (wat tien beteken) gegaan. Hierdie maande het slegs 304 dae geduur en het nie die winter ingesluit nie. Die jaar het met Maart in die lente begin wat ook die begin van die landbou jaar was. Met die afsluiting van die laaste herfsoeste was die landboujaar verby. Die wintermaande het nie veel betekenis verder in die landbou gehad nie. Numa Pompilius het later (715 – 673 vM) twee maande bygevoeg, Januarius en Februarius. Numa, wat ook die sonidool Mithras aanbid het, het ook Nuwe Jaar verskuif na die tyd wat die son terugkeer. Dus, die tydperk van 25 Desember tot ongeveer 1 Januarie soos dit vandag bekend is. Landbou Nuwe Jaar het steeds in Martius (Maart) gebly. Gedurende 153 vM is die Nuwe Jaar weer na 1 Januarie verskuif. Meerderheid van die bevolking het egter hierdie Nuwe Jaar net vir saketransaksies gehou en steeds die landboujaar in Maart begin. Aangesien die twaalf maan-maande nie ’n volle sonjaar oplewer nie het die kalender probleme veroorsaak. Die oesfeeste is gehou voordat die oes ingesamel is. Julius Caeser het na sy terugkeer uit Mitsrajim (Egipte) in 46 vM ’n nuwe sonkalender daargestel. Die kalender was maande uit en die regstelling het veroorsaak dat die jaar 445 dae lank was. Dit het ook veroorsaak dat die nuwe jaar van 45 vM met 1 Januarie sou begin. Met die nuwe Juliaanse kalender sê Macrobius dat 1 Maart op 1 Januarie geval het. Die feesvieringe wat rondom hierdie tydperk aan die orde van die dag was is dan natuurlik Saturnalia wat vandag hoofsaaklik as kersfees gevier word en het uiteindelik tot in Januarie gestrek. Meer kan hieroor in die lering t.o.v. kersfees gelees word. 5. Wat sê die Skrif?Wanneer die gelowige egter na enige iets kyk, moet hy homself afvra wat die Skrif, die woord van JHWH, daaromtrent sê. Heel eerste sien ons dat die tydperk van die nuwe jaar baie duidelik gedefiniëer word:
Hierdie opdrag kom nog vóór Mirakel uit Mitsrajim trek. Die winter is verby en lente is aan die kom. Hierdie maand word nou aangedui as die BEGIN van al die maande. In hoofstuk 23 van Shemot (Exodus) sê JHWH duidelik dat die Pesach gevier word in hierdie maand Aḇiḇ (Aviv) en ook die Ongesuurde Brode omdat dit die maand is wat hulle uit Mitsrajim getrek het. Dit is dus die maand van hulle verlossing en dus die eerste maand van Jisra’el se vryheid. In hedendaagse terme sal dit seker soos 27 April vir die “nuwe Suid-Afrika” wees of soos 4 Julie vir die VSA of 14 Julie vir Frankryk. JHWH gee duidelike aanduiding van die eerste maand van die jaar maar beslis nie enige feeste vir Nuwe Jaar nie! Soos reeds vroeër genoem, is daar navorsers wat aanvoer dat Jisra’el en ook Jahuda en Jisra’el na die skeuring van die ryk, die sewende maand feeste ook as Nuwe Jaar gevier het. Daar is egter géén aanduiding hiervan in die Skrif nie. Ons vind egter die volgende in die Skrif:
In beide bogenoemde verse, wil dit voorkom of dit die einde van die jaar beteken. Daar is ook verskeie vertalings wat wel een of albei as einde vertaal. Uit ander verse soos 2 Shemu’el hoofstuk 11 vers 1, 1 Melaḵim (Konings) hoofstuk 20 verse 22 en 26, 1 Kronieke hoofstuk 20 vers 1 en 2 Kronieke hoofstuk 36 vers 10 is dit duidelik dat hierdie “draai”van die jaar in werklikheid “draai van seisoene” beteken. Dus ’n oorgaan van winter na somer of van somer na winter. Dit is selfs moontlik dat enige oorgaan van lente na somer na herfs na winter en weer na lente kan beteken. Die verse in Shemot dra dus geen gesag ten opsigte van ’n Nuwe Jaar nie! 6. Nuwe Jaar van Jahuda vandagJahuda vandag, volgens die ortodokse en moderne Judaïsme, het vier veskillende Nuwe Jare. Vir geen grondige redes word die Nuwe Jaar wat met lente vir die voor-ballingskap Jisra’el gegeld het, vervang met die Nuwe Jaar wat met herfs begin (soos reeds bespreek). Hierdie geld deesdae as ’n siviele Nuwe Jaar. 1 Aḇiḇ word steeds ook as Nuwe Jaar erken maar het nie enige feesvieringe daaraan verbonde nie. Hierdie Nuwe Jaar is hoofsaaklik religieus. Buiten hierdie, het Judaïsme ook nog twee ander Nuwe Jare wat op 1 Elul en 1 Shebat val vir tiendes van die beeste en vir bome onderskeidelik. 7. GevolgtrekkingNa aanleiding van alles hierbo genoem is dit duidelik dat die heidennasies baie idoolaanbidding met hulle feeste op Nuwe Jaar gehad het. Dit is ook duidelik dat die feesvieringe rondom 1 Januarie allermins onskuldige pret is. Dit het direkte verband met Saturnalia en die terugkerende son. Die direkte sonaanbidding is dus net so teenwoordig. JHWH sê die volgende in Shemot 23:
Eerstens kan die gelowige nie die wêreld gaan slaafs navolg in hul heidense feeste of ander wat nie deur JHWH beveel is nie. Tweedens, indien die gelowige nie eens die naam Januarie op sy lippe mag neem nie, kan hy sekerlik nie oorweeg om die heidense fees wat daarmee gepaard gaan te vier nie! Daar is verseker nog ʼn magdom inligting wat bygewerk kan word. Die kalender van verskeie beskawings word ook afsonderlik bespreek. Hierdie behoort egter voldoende te wees vir enige gelowige wat die hartsbegeerte het om die wil van JHWH te doen en om afgesonderd vir JHWH te leef. Mag JHWH jou seën en beskerm. Mag JHWH vir jou wysheid en insig gee. Shalom! 8. Bronne
|
|