Hoor, Jisra’ĕl, יהוה ons Elohim, יהוה is een! (Deb/Deut 6:4)

Die Drie-Eenheid

…Skriftuurlik of Heidens?

 

Inleiding

Waar kom die begrip “Drie-Eenheid” vandaan? Kom dit uit die Skrif? Nee, beslis nie uit die Skrif nie. Selfs alle teoloë erken dat die term ‘Drie-Eenheid’ glad nêrens in die Skrif, Ou of Nuwe Verbond, voorkom nie. Nou wel, van waar dan?

Volgens die studie van Alexander Hislop in “The Two Babylons” kan verskeie mitologië van die wêreld na ‘n gemeenskaplike oorsprong teruggevoer word. Dit is dan ook duidelik met die drie-eenheid die geval. Volgens Hislop het ons te doen met ‘n drie-eenheid in Egipte, Babilonië, Griekeland, Rome, Siberië, Japan, Indië en andere. Hy beweer selfs dat die “hoof godheid” in byna AL die heidense nasies ‘n drie-eenheid was.

Oorsprong

Een van die eerstes is die Babiloniese drie-eenheid. Aanvanklik was daar El-lil: magtige van die storm, bestaande uit Ea, die ‘watergod’,  Anu die ‘songod’ en laastens Ea se eersgeborene, Marduk as “god van die aarde”. Marduk is ook “Bel” en “Ba’al” genoem met die draak as simbool. El-lil het bekend gestaan as “vader van Sumer” en “skepper” en “onderhouer van lewe”.

Ashur was ‘n songod van die hoofstad van Assirië en sy vrou was Ishtar, die “groot moeder” en godin van Nineve, ‘n stad van Nimrod. Ishtar het onder die Fenisiërs bekend gestaan as Ashtoret, Astarte vir die Grieke in Rome as Venus, “godin van liefde”. Sy was ook as Nana Semiramis en Madonna  bekend.

Semiramis het dan ook na die dood van Nimrod ‘n buite-egtelike kind gehad en hom Tammuz genoem. Sy het dan ook aangevoer hy is die opgestane Nimrod. Tammuz was ook bekend as Ba’al, Adonis, Osiris, Bacchus en nog ander name. So het ons dan een van die eerste drie-eenheidsgode. In Mitsrajim (Egipte) was hulle bekend as Osiris, Isis en Horus.

Voorbeelde van drie-eenhede:

Die Drie “Hoofgode”

Eerste Persoon

Tweede Persoon

Derde Persoon

Vader, Koning

Seun, Prins

Moeder, Koningin

Babiloniese Drie-Eenheid

Nimrod

Tammuz

Semiramis

Shamash

Sin

Ishtar

Sondige Israelse Drie-Eenheid

Ba’al

Tammus

Ashtoret

Mitsrajietiese (Egiptiese) Drie-Eenheid

Osiris

Horus

Isis

Griekse Drie-Eenheid

Zeus

Apollo

Athena

Indiese Drie-Eenheid

Brahama

Vishnu

Shiva

Roomse Drie-Eenheid

Jupiter

Mars

Venus

Rooms Katolieke Drie-Eenheid

Vader

Seun

‘Heilige’ Gees/Maria

Jehowah

Jesus

Duif

Let Wel: Die Duif was nog altyd die Katolieke se “godin” simbool. Verder is Maria (eintlik was haar naam Mirjam) ook verhef tot mede-Verlosser saam met  Messias.

Ons sien dus hier ‘n baie duidelike lyn van ooreenkomste wat deur AL die wëreldreligië loop.

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Katolieke Instelling

Aangesien die Drie-Eenheidsdoktrine voor die deur van die RKK (Roomse Katolieke Kerk) gelê word is daar menige wat die doktrine verdedig en aanvoer dat reeds in  180 nM deur Theophilus (116 – 181 nM) van ‘n drie-eenheid gepraat word. Die Gemeente van Jahushua/JHWH het egter nie hierdie doktrine aanvaar nie. Wanneer ons in ag neem dat die Gemeente van Messias reeds byna 150 jaar vroeër begin het, is hierdie verdediging vreemd.

Wat egter hier interessant is, is die feit dat die meeste verdedigers sê dat Theophilus die term “drie-eenheid” geskep het. Die Catholic Encyclopedia self erken dat hierdie term klaarblyklik reeds vroeër (en nie deur navolgers van Jahushua nie) gebruik is. Hulle gaan voort en erken dat dit eers in die 4de eeu sy werklike beslag gekry het met die Vergadering van Nicea in 325 nM. Die ergste bekentenis is dat hulle reken dit ‘n “goddelike” openbaring was. Alhoewel niemand wil ontken dat JHWH Hom op verskeie wyses kan openbaar nie, is dit tog onmoontlik dat HY in direkte teenstelling met die Skrif, Sy Woord, ‘n ander openbaring of leerstelling sal gee.

Ons vind dan die eerste geloofsbelydenis deur Gregory Thaumaturgus, ‘n student van Origen wat tussen 260 en 270 nM dit in sy eksegese geskryf het. Daarna is dit bevestig in 325 nM in Nicea, 381 nM in Konstantinopel en 451 nM in Chalcedon.

Die Roomse leer word ook deur die meeste Protestantse groepe aanvaar en is nie herstel met die aanvanklike hervorming nie. In die volgende grafika word die leerstelling uitgebeeld:

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Die gesag van die Skrif

Indien dan nie ‘n “drie-eenheid” nie, hoekom nie? Wat sê die Skrif omtrent JHWH, die Elohim (Magtige) van Jisra’el? Die duidelike antwoord kry ons in Debarim (Deuteronomium) 6 vers 4:

“Hoor, Jisra’ěl, JHWH ons Elohim, JHWH is een!”

Wanneer Moshe (Moses) hierdie stelling maak is dit op grond van JHWH se direkte woorde aan hom. Dit is immers hy wat op die berg saam met JHWH (en ook later saam met Jahushua) was. Kom ons kyk ook na ‘n klompie verse uit Jeshajahu (Jesaja):

“Ek is JHWH, dit is My Naam; en My aansien sal Ek aan geen ander gee, of My lof aan die idole nie.” (Jes 42:8)

“Want Ek is JHWH, jou Elohim, die Afgesonderde van Jisra'ěl, jou Verlosser” (Jes 43:3)

10 “Júlle is My getuies, sê JHWH, en My dienaar wat Ek gekies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is. Voor My is geen El gevorm nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. 11 Ek, Ek is JHWH, en daar is geen Verlosser buiten My nie.” (Jes 43:10,11)

‘So sê: "JHWH, die Koning van Jisra'ěl en sy Verlosser, JHWH van die leërskare: “Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen Elohim nie.”’ (Jes 44:6)

5 “Ek is JHWH, en daar is geen ander nie - naas My is daar geen Elohim nie. Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie. Ek is JHWH, daar is geen naas My nie;…”  (Jes 45:5,6)

21 “Verkondig en bring nader, ja, laat hulle saam raad hou. Wie het dit van ouds af vertel. Lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, JHWH, nie? En buiten My is daar geen ander elohim nie: ʼn regverdige El en Verlosser is daar buiten My nie. 22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is Elohim, en daar is geen ander nie.” (Jes 45:21,22)

“Onthou die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek Elohim is, en daar is geen ander nie, Ek is El, en daar is niemand soos Ek nie;…” (Jes 46:9)

Lees gerus ook Deb (Deut) 4:35; 1 Shem (1 Sam) 2:2; Jes 48:12. In Mark 12:29 haal Jahushua self, Deb 6:4 aan. Kyk ook gerus na die volgende:

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste waaragtige Elohim, en Jahushua Messias wat U gestuur het.” (Joh 17:3)

En die Middelaar is nie net vir een nie, maar Elohim is een. (Gal 3:20)

Lees ook die volgende in die Nuwe Verbondsboeke: 1 Kor 8:4-7; Efe 4:5-6; 1 Tim 2:5; Jaäk 2:19. Soos ons in Jeshajahu gesien het en in Shem (Exo) 3:14-15 bekend gemaak is die Naam van hierdie EEN ENKELE ELOHIM, JHWH (Jahuweh).

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Wat dan van Jahushua?

Die Skrif dui vir ons onteenseglik aan dat JHWH is Jahushua is JHWH. Elohim is JHWH en die Vader is JHWH. Ons het dit reeds in die verse hierbo gesien. Kom ons kyk wat die Skrif van Jahushua sê:

En jy, Bět Lechem [Betlehem] Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Jahuda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ʼn Regeerder in Jisra'ěl sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. (Mig 5:2)

Dus het Hy van ewigheid al bestaan.

Want ʼn Kind is vir ons gebore, ʼn Seun is aan ons gegee; en die regering is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterk El, Ewige Vader, Vredevors. (Jes 9:6/soms 5)

Hier word Hy direk die Ewige Vader genoem asook die Sterke Elohim! Is daar nog twyfel?

“Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.” (Joh 8:58)

Weereens kry ons die woorde “Ek Is”, in werklikheid JHWH! Dieselfde as wat Elohim gebruik het toe Hy Hom aan Moshe in Shemot (Exodus) 3:14-15 aan Moshe bekend gemaak het. Ook die rede waarom die Fariseërs en Sadduseërs Hom so graag wou dood hê, Hy het volgens hulle oordeel lasterlik gepraat. Hy het nie alleen JHWH se Naam gebruik en JHWH as Sy Vader gestel nie maar Homself aan Elohim gelykgestel! Ondersoek die Skrif gerus en nog vele meer sal na vore kom, soos Joh 1:1; Joh 20:28; Rom 9:5; Tit 2:13; Heb 1:9 en 1 Joh 5:20. Doen dit egter biddend sodat JHWH deur Sy Gees die waarheid sal openbaar.

Hieronder is verskeie eienskappe wat identies is en wat net aan EEN kan behoort en EEN beskryf, tog word daar onderskeidelik na JHWH en Jahushua verwys.

Eienskap

JHWH

Jahushua

Skepper

Jes 40:28

Joh 1:1-3; Kol 1:14-17; Heb 1:10

‘Ek Is’

Ber(Ex) 3:14

Joh 8:57-59; Joh 18:3-6

Koning

Jes 43:6

Joh 19:21

Vader

Jes 64:8

Jes 9:6

Verlosser

Jes 43:11

Hand 5:31

Herder van die skape

Jeh(Eseg) 34

Joh 10

Die Eerste en die Laaste

Jes 44:6; 48:12

Opb 1:7,11; Opb 22:13

Die Een wat julle gekoop het

Deb(Deut) 32:6[1]

Opb 5:9

Die Een wat deurboor is

Zek(Sag) 12:10

Jes 53:5

Alwetend

1 Mel(1 Kon) 8:39

Joh 21:17

Alomteenwoordig

Jer 23:24

Efe 4:10

Almagtig

Deb(Deut) 32:6; Job 11:7

Matt 28:18; Kol 1:17; 1 Kor 8:6

Dit is dus baie duidelik uit die Skrifte self dat JHWH wel Jahushua is en omgekeerd. Die feit dat JHWH aarde toe gekom het in die vleeslike liggaam van ‘n man bewys net weereens Sy Almagtigheid en Alomteenwoordigheid. Dit is nie ‘n “ander” persoon nie.

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Waar pas die Gees van Afsondering dan in?

Soos reeds vermeld is JHWH nie die eerste persoon en Jahushua nie die tweede persoon in Elohim (sommige sal eerder sê die “Godheid”) nie. Net so, is die “Heilige” Gees (Hebreeus: Ruach Hakodesh) of meer korrek in Afrikaans ,Gees van Afsondering of Gees van JHWH allermins ‘n derde persoon. Let op die volgende:

23 “Maar daar kom ʼn uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid. Want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24Elohim is Gees, en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh 4)

Sha’ul (Paulus) bevestig dit ook in 2 Kor 3:17. Die mens is ook geskep as liggaam, wese (siel) en gees. Wanneer ons egter verskillend begin optree as normaalweg dan word gepraat van ‘n gesplete of meervoudige persoonlikheid. Ons Elohim het voorwaar NIE ‘n gesplete of meervoudige persoonlikheid nie.

Hy is Gees. Sy bestaansvlak is soveel anders as die van ons. Die “drie-eenheidsleer” is (moontlik sonder bybedoelinge, maar moontlik ‘n vanggat van Satan) ‘n poging van die mens om JHWH Elohim te verklaar en te verstaan. Ons het egter net nodig om Hom te glo en Sy verdienste vir ons te aanvaar. Sy Gees (nie ‘n afsonderlike persoon nie) sal ons dan verder lei om te leef (vrug van die Gees) soos Hy (JHWH) van ons verwag. Ons het nie nodig om Hom te verstaan nie. In hierdie lewe sal ons ook nooit nie, maar eendag wel (1 Kor 13:12).

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Finale Woord

Sommige geleerdes wil voorgee dat 1 Kor 12 duidelik aantoon dat dit ‘n “drie-eenheid” is omdat daar van “dieselfde Gees”, “dieselfde Meester” en “dieselfde Elohim” gepraat word. Feit is, daar is net EEN Elohim en Hy IS Gees! Ander weer haal graag 1 Joh 5:7 en 8 aan. Dit is egter nie in die oorspronklike tekste nie al wil wie ook wat sê. Al spring hulle hoe hoog, is dit duidelik ‘n inskrywing na die tyd om die “drie-eenheidsleer” te regverdig en te verdedig. ‘n Soortgelyke probleem word in Matt 28:19 aangetref.

Na alle aanduidings van buite Skriftuurlike geskrifte van dieselfde tydperk wat Mattitjahu (Mattheus) in omloop gekom het, was daar slegs sprake van “doop hulle in My (Jahushua) Naam” of “doop hulle in die Naam van Jahushua”.  Die bevestiging hiervan vind ons in Handelinge (Hand 2:38; 10:48; 19:5) waar die gelowiges keer op keer in die Naam van ons Meester, Jahushua Messias gedoop word.

Ten slotte is dit nodig om te sê dat vele sal van hierdie selfde tekste wil gebruik om te “bewys” dat JHWH ‘n “meervoudige godheid” of “drie-eenheid” is. Die verskil lê daarin dat die Gees van Waarheid (nog ‘n Naam vir die Gees?) die waarheid aan díe sal openbaar wat dit soek.

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?

Bronne

1.            Die SkrifteLetterlike Vertaling (nog nie voltooi nie)

2.            Die Bybel (1953) – Bybelgenootskap van SA

3.            The Two BabylonsAlexander Hislop

4.            The Catholic EncyclopediaOnline

5.            The Origin of the Trinity – William B Chalfant (Thd)

6.            Elim webtuisteJohn Wahl


 

[1] KJV, The Scriptures, Die Skrife, Hebreeuse Skrif (Tanak)

Boontoe Drie-Eenheid: Skriftuurlik of Heidens?


Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte


Kopiereg / Copyright  © 2002 - 2010

 Masada (Ware Verbond / True Covenant)

 Gaan uit haar uit / Come out of her

Keer terug na Tora / Return to Torah

Alle regte voorbehou / All rights reserved
Hersien/Revised: 17-08-2010

Werf Kaart / Site Map

gaan uit haar uit my volk,come out of her my people

Web space provided by Afrisys voorsien die Webruimte