|
|
Die Drie-Eenheid……Skriftuurlik of Heidens?
InleidingWaar kom die begrip “Drie-Eenheid” vandaan? Kom dit uit die Skrif? Nee, beslis nie uit die Skrif nie. Selfs alle teoloë erken dat die term ‘Drie-Eenheid’ glad nêrens in die Skrif, Ou of Nuwe Verbond, voorkom nie. Nou wel, van waar dan? Volgens die studie van Alexander Hislop in “The Two Babylons” kan verskeie mitologië van die wêreld na ‘n gemeenskaplike oorsprong teruggevoer word. Dit is dan ook duidelik met die drie-eenheid die geval. Volgens Hislop het ons te doen met ‘n drie-eenheid in Egipte, Babilonië, Griekeland, Rome, Siberië, Japan, Indië en andere. Hy beweer selfs dat die “hoof godheid” in byna AL die heidense nasies ‘n drie-eenheid was. OorsprongEen van die eerstes is die Babiloniese drie-eenheid. Aanvanklik was daar El-lil: magtige van die storm, bestaande uit Ea, die ‘watergod’, Anu die ‘songod’ en laastens Ea se eersgeborene, Marduk as “god van die aarde”. Marduk is ook “Bel” en “Ba’al” genoem met die draak as simbool. El-lil het bekend gestaan as “vader van Sumer” en “skepper” en “onderhouer van lewe”. Ashur was ‘n songod van die hoofstad van Assirië en sy vrou was Ishtar, die “groot moeder” en godin van Nineve, ‘n stad van Nimrod. Ishtar het onder die Fenisiërs bekend gestaan as Ashtoret, Astarte vir die Grieke in Rome as Venus, “godin van liefde”. Sy was ook as Nana Semiramis en Madonna bekend. Semiramis het dan ook na die dood van Nimrod ‘n buite-egtelike kind gehad en hom Tammuz genoem. Sy het dan ook aangevoer hy is die opgestane Nimrod. Tammuz was ook bekend as Ba’al, Adonis, Osiris, Bacchus en nog ander name. So het ons dan een van die eerste drie-eenheidsgode. In Mitsrajim (Egipte) was hulle bekend as Osiris, Isis en Horus. Voorbeelde van drie-eenhede:
Ons sien dus hier ‘n baie duidelike lyn van ooreenkomste wat deur AL die wëreldreligië loop. Katolieke InstellingAangesien die Drie-Eenheidsdoktrine voor die deur van die RKK (Roomse Katolieke Kerk) gelê word is daar menige wat die doktrine verdedig en aanvoer dat reeds in 180 nM deur Theophilus (116 – 181 nM) van ‘n drie-eenheid gepraat word. Die Gemeente van Jahushua/JHWH het egter nie hierdie doktrine aanvaar nie. Wanneer ons in ag neem dat die Gemeente van Messias reeds byna 150 jaar vroeër begin het, is hierdie verdediging vreemd. Wat egter hier interessant is, is die feit dat die meeste verdedigers sê dat Theophilus die term “drie-eenheid” geskep het. Die Catholic Encyclopedia self erken dat hierdie term klaarblyklik reeds vroeër (en nie deur navolgers van Jahushua nie) gebruik is. Hulle gaan voort en erken dat dit eers in die 4de eeu sy werklike beslag gekry het met die Vergadering van Nicea in 325 nM. Die ergste bekentenis is dat hulle reken dit ‘n “goddelike” openbaring was. Alhoewel niemand wil ontken dat JHWH Hom op verskeie wyses kan openbaar nie, is dit tog onmoontlik dat HY in direkte teenstelling met die Skrif, Sy Woord, ‘n ander openbaring of leerstelling sal gee. Ons vind dan die eerste geloofsbelydenis deur Gregory Thaumaturgus, ‘n student van Origen wat tussen 260 en 270 nM dit in sy eksegese geskryf het. Daarna is dit bevestig in 325 nM in Nicea, 381 nM in Konstantinopel en 451 nM in Chalcedon. Die Roomse leer word ook deur die meeste Protestantse groepe aanvaar en is nie herstel met die aanvanklike hervorming nie. In die volgende grafika word die leerstelling uitgebeeld:
Die gesag van die SkrifIndien dan nie ‘n “drie-eenheid” nie, hoekom nie? Wat sê die Skrif omtrent JHWH, die Elohim (Magtige) van Jisra’el? Die duidelike antwoord kry ons in D'ḇarim (Deuteronomium) 6 vers 4: “Hoor, Jisra’ěl, JHWH ons Elohim, JHWH is een!” Wanneer Moshe (Moses) hierdie stelling maak is dit op grond van JHWH se direkte woorde aan hom. Dit is immers hy wat op die berg saam met JHWH (en ook later saam met Jahushua) was. Kom ons kyk ook na ‘n klompie verse uit Jeshajahu (Jesaja): “Ek is JHWH, dit is My Naam; en My aansien sal Ek aan geen ander gee, of My lof aan die idole nie.” (Jes 42:8) “Want Ek is JHWH, jou Elohim, die Afgesonderde van Jisra'ěl, jou Verlosser” (Jes 43:3) 10 “Júlle is My getuies, sê JHWH, en My dienaar wat Ek gekies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is. Voor My is geen El gevorm nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. 11 Ek, Ek is JHWH, en daar is geen Verlosser buiten My nie.” (Jes 43:10,11) ‘So sê: "JHWH, die Koning van Jisra'ěl en sy Verlosser, JHWH van die leërskare: “Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen Elohim nie.”’ (Jes 44:6) 5 “Ek is JHWH, en daar is geen ander nie - naas My is daar geen Elohim nie. Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie. Ek is JHWH, daar is geen naas My nie;…” (Jes 45:5,6) 21 “Verkondig en bring nader, ja, laat hulle saam raad hou. Wie het dit van ouds af vertel. Lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, JHWH, nie? En buiten My is daar geen ander elohim nie: ʼn regverdige El en Verlosser is daar buiten My nie. 22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is Elohim, en daar is geen ander nie.” (Jes 45:21,22) “Onthou die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek Elohim is, en daar is geen ander nie, Ek is El, en daar is niemand soos Ek nie;…” (Jes 46:9) Lees gerus ook Deb (Deut) 4:35; 1 Shem (1 Sam) 2:2; Jes 48:12. In Mark 12:29 haal Jahushua self, Deb 6:4 aan. Kyk ook gerus na die volgende: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste waaragtige Elohim, en Jahushua Messias wat U gestuur het.” (Joh 17:3) En die Middelaar is nie net vir een nie, maar Elohim is een. (Gal 3:20) Lees ook die volgende in die Nuwe Verbondsboeke: 1 Kor 8:4-7; Efe 4:5-6; 1 Tim 2:5; Jaäk 2:19. Soos ons in Jeshajahu gesien het en in Shem (Exo) 3:14-15 bekend gemaak is die Naam van hierdie EEN ENKELE ELOHIM, JHWH (Jahuweh). Wat dan van Jahushua?Jahushua is na alle aanduidinge as profeet en gesalfde van JHWH gestuur soos al die vorige profete om die naderende Koninkryk van JHWH aan te kondig en om Jisra'el terug te roep na JHWH. Daar is geen aanduidinge dat Jahushua of sy volgelinge ʼn nuwe geloof probeer skep het nie. Op hierdie webblad het ons voorheen twee moontlikhede ondersteun: EEN of Jahushua is JHWH óf Jahushua is slegs ʼn profeet van JHWH. Gegee die agtergrond wat meeste mens het wat uit die kerk stelsel kom, is die geneigdheid om hom (Jahushua) met JHWH gelyk te stel of om JHWH en Jahushua as ʼn twee-eenheid te sien - baie onskriftuurlik. Indien die "Nuwe Testament" as outentiek aanvaar kon word sou ons moes aanvaar dat JHWH en Jahushua een en dieselfde is. Weens die feit die "Nuwe Testament" meer Grieks-Romeins is as enige iets anders en duidelik sterk beïnvloed is Griekse leringe, kan ons met veiligheid aanvaar dat Jahushua nie JHWH is nie en ook nie die messias wat die kerk van hom maak nie. Hiermee wil niemand sê dat Jahushua nie ʼn messias was nie, want elkeen wat gesalf is, is ʼn messias. Die term beteken bloot "gesalfde". Hierdie saak sal in meer besonderhede in ander stuk bespreek word met al die nodige Skrif aanhalings ter ondersteuning. Dit is wel op hierdie stadium moeilik te sê of Jahushua histories daar was al dan nie. Verdere ondersoek word gedoen om hom as historiese figuur te staaf. Waar pas die Gees van Afsondering dan in?JHWH is GEES. JHWH is Afgesonderd en dus is Sy Gees Afgesonderd. Ons sal binnekort hierdie ook verder uitbrei Finale WoordSommige geleerdes wil voorgee dat 1 Kor 12 duidelik aantoon dat dit ‘n “drie-eenheid” is omdat daar van “dieselfde Gees”, “dieselfde Meester” en “dieselfde Elohim” gepraat word. Feit is, daar is net EEN Elohim en Hy IS Gees! Ander weer haal graag 1 Joh 5:7 en 8 aan. Dit is egter nie in die oorspronklike tekste nie al wil wie ook wat sê. Al spring hulle hoe hoog, is dit duidelik ‘n inskrywing na die tyd om die “drie-eenheidsleer” te regverdig en te verdedig. ‘n Soortgelyke probleem word in Matt 28:19 aangetref. Na alle aanduidings van buite Skriftuurlike geskrifte van dieselfde tydperk wat Mattitjahu (Mattheus) in omloop gekom het, was daar slegs sprake van “doop hulle in My (Jahushua) Naam” of “doop hulle in die Naam van Jahushua”. Die bevestiging hiervan vind ons in Handelinge (Hand 2:38; 10:48; 19:5) waar die gelowiges keer op keer in die Naam van ons Meester, Jahushua Messias gedoop word. Ten slotte is dit nodig om te sê dat vele sal van hierdie selfde tekste wil gebruik om te “bewys” dat JHWH ‘n “meervoudige godheid” of “drie-eenheid” is. Die verskil lê daarin dat die Gees van Waarheid (nog ‘n Naam vir die Gees?) die waarheid aan díe sal openbaar wat dit soek. Om JHWH te probeer verstaan is dit nodig om Torah te ken en nie iets anders nie. In Torah is daar GEEN aanduidings van enige multi persoonlikhede nie net EEN!: “Hoor, Jisra’ěl, JHWH ons Elohim, JHWH is een!” Bronne1. Die Skrifte – Letterlike Vertaling (nog nie voltooi nie) 2. Die Bybel (1953) – Bybelgenootskap van SA 3. The Two Babylons – Alexander Hislop 4. The Catholic Encyclopedia – Online 5. The Origin of the Trinity – William B Chalfant (Thd) | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|